KIMBERLEY. – Die man (19) wat na bewering ‘n nagklubeienaar (50) van die stad aangerand het, het vandag weer in die hof verskyn. Twee ooggetuies moet nog hulle verklarings aflê.
Barney Blunden is op 21 Mei in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, nadat hy na bewering die nagklubeienaar van @Stones buite die klub aangerand het.
L. Japhta, die staatsaanklaer, het gevra vir uitstel nadat nog twee ooggetuies na vore gekom het.
Ettiene Mathewson, Blunden se prokureur, sê hulle wou nie die verklarings namens die staat kry nie, omdat hulle nie by die saak wou inmeng nie.
Die saak is tot 22 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel. Blunden se borgtog is tot die volgende hofdatum verleng.



