Anna Wiid (70) van Plooysburg en Hannie van der Linde (70) van Grootbrak is ‘n identiese tweeling. Hulle het gister hulle 70ste verjaarsdag gevier. Hulle gesels met FiND iT oor hoe dit voel om deel van ‘n tweeling te wees en jou hele lewe met iemand te deel.
Hannie is eerste gebore en Anna 15 minute later. Van kleins af is daar altyd ‘n gespottery tussen die twee oor hulle 15 minute ouderdomsverskil. Hannie sê sal altyd sê sy is die baas omdat sy die oudste is. Anna sal dan terugsê: “Omdat jy eerste is, wil jy net altyd baas wees.”
Onafskeidbaar
Hulle is tuis op Douglas gebore. Hulle sê dit is fantasties om ‘n tweeling te wees. Hulle doen altyd alles saam en is altyd by mekaar. Wanneer hulle vir lang tye uit mekaar uit is, treur hulle oor mekaar.
Tweelingverbinding
“Ons het definitief daardie tweelingverbinding”, sê Hannie. “Gewoonlik as ek aan haar dink, dan bel sy my binne ‘n paar minute. Ons weet ook net wanneer die ander een sleg voel of siek is. Dit is meer soos instink”, sê Anna.
Hannie sê sy het presies geweet die oomblik toe Anna se eerste baba gebore is. Minute later het haar man met die goeie nuus gebel.
Kinderherinneringe
Hulle het as kinders op die plaas grootgeword en baie buite in die vlaktes gespeel. “Ons het pophuise van rolbosse gemaak,” sê Anna.
Hulle eet ook alles en het nie gunstelingkosse nie. Altwee hou van die kleur blou. Hulle het op skool baie plekke geruil en mense het hulle met mekaar verwar. “Ek het baie op die atletiekbaan ‘n tantrum gegooi wanneer hulle gesê het Anna was eerste, maar dan was dit eintlik ek,” sê Hannie.
Beste deel van ‘n tweeling wees
“Die beste deel is dat jy nooit alleen is nie. Jy is dieselfde as jou tweeling, maar jy het ook jou eie identiteit. Dit is definitief ‘n band wat nie gebreek kan word nie,” sê Anna. “Daar is altyd iemand om mee te praat en skinder. Ons is definitief nader aan mekaar as ander susters,” sê Hannie.






