KIMBERLEY – Die Noord-Kaapse polisie het die kinderbeskermingsweek by die Voorskool Vals Beautiful Beginnings in De Beers, Kimberley, afgesluit.
Op Dinsdag 11 Junie 2019 het die eenhede vir provinsiale korporatiewe kommunikasie, provinsiale sigbare polisiëring, Galeshewe- en Kimberleyse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), SAPD provinsiale mensehulpbronbenutting, SAPD Women’s Network en Men For Change ‘n kinderbeskermingsweekveldtog geloods.
Lt.-kol. Marli Strydom en kapt. Sabata Tsiu, albei van FCS-eenhede, het baie insiggewende veiligheidsgesprekke met die leerlinge gehou. Die kinders was almal tussen 4 en 6 jaar oud. Die kinders het aandagtig geluister en is almal beloon met veiligheidswenke, inkleurboeke, skryfbehoeftes en geskenkpakke van die polisie.
‘n Vingerafdruk-oefening is ook op sertifikate deur die SAPD gedoen. Die sertifikate is by die voorskool deur die opvoeders geliasseer. Die kinders het op hulle beurt ook die polisie met pragtige gediggies, die Suid-Afrikaanse volkslied en ander bekende liedjies vermaak.





