KIMBERLEY – Sowat 200 gemeenskapslede het ’n gedeelte van Hullstraat vanaf De Beers Terrace tot duskant die Samariapad met klippe en brandende bande gesper.
FiND iT het die T-aansluiting van Hullstraat en Samariapad besoek. Die veld was aan die brand. Die stopstraatteken is uitgeruk en klippe het regoor die pad gelê.
Kaghiso Aries, voorsitter van informele nedersettings in die stad, het aan FiND iT bevestig dat die protesaksie nie oor die Samaria-informele nedersetting handel nie.
Pontsho Mocwana, woordvoerder van die kleinskaalmyners-vereniging, sê hy was by die premierskantoor besig en kon nog nie die toneel besoek nie.
’n Anonieme bron beweer die protesaksie word deur ’n klein groep onwettige myners, wat nie permitte of grond om op te myn ontvang het nie, aangehits.
Kapt. Sergio Kock, ’n woordvoerder vir die polisie, sê die polisie se openbare orde-eenheid, taktiese reaksiespan, blitspatrollie en lede van die Francis Baard-taakmag het die situasie onder beheer gebring. Die pad is sowat 12:30 vir verkeer oopgemaak.
Geen ernstige beserings is aangemeld nie. Die polisie monitor die situasie.










