Miljoene wil geheimsinnige lugmagbasis binnedring

Deel hierdie storie / Share this story

Meer as ’n miljoen mense het op Facebook ingestem om die wêreldbekende Amerikaanse militêre-lugmagbasis, genaamd Area 51, in Nevada, VSA, omstreeks 03:00 op 20 September binne te dring om “aliens” te sien.

Die Facebook-byeenkoms, Storm Area 51, They Can’t Stop All of Us, het dusver meer as 2.2 miljoen mense betrek.

Sedert ’n weerballon naby ’n plaas in Roswell, New Mexico, in 1947 geval het, het samesweringsteorieë oor die lugmagbasis baie populêr geword.

Een van dié teorieë beskuldig die Amerikaanse-weermag daarvan dat hulle ’n wrak van ’n ruimtetuig en ook die liggaam van ruimtewesens in Roswell gevind het en dit na dié lugmagbasis gebring het. 

Laura McAndrews, woordvoerder van die Amerikaanse-lugmag, het in ’n onderhoud met The Washington Post gesê die weermag is bewus van die beplande byeenkoms. McAndrews het geweier om te sê presies hoe die weermag beplan om dit te hanteer. Sy het ’n streng waarskuwing uitgestuur aan enige persoon wat beplan om by die militêrebasis te oortree.