’n Verdagte, wat na bewering in Maart vanjaar ’n 16-jarige seun doodgesteek het vir sy denimbaadjie en Adidas-skoene, is in hegtenis geneem.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die verdagte het in ’n huis in Galeshewe weggekruip. Hy sal na verwagting môre in die Galeshewe-landdroshof verskyn.
Padblokkades op die N8 van Kimberley na Bloemfontein en op die N12 van Kimberley na Warrenton, is ook gelyktydig gehou. Boetes van meer as R15 000 is aan motoriste uitgereik vir die oortreding van die verkeerswet, voertuie sonder geldige bestuurslisensies en voertuie wat nie padwaardig is nie.
Diefstal
Drie verdagtes tussen die ouderdomme van 16 en 24 is in hegtenis geneem omdat hulle in besit was van koper wat 46,43 kg weeg. Die verdagtes sal na verwagting Maandag voor die Kimberley-landdroshof verskyn, op aanklag van die besit van gesteelde koper.


Dwelms
Drie verdagtes is op Jan Kempdorp in hegtenis geneem nadat die SAPD ’n leidraad opgevolg het. Die verdagtes het vermoedelik dwelms hanteer. Hulle huis is deursoek en meer as 100 Mandrax-tablette is in hulle besit gevind. Hulle was ook in besit van bankdebietkaarte, Sassa-debietkaarte en identiteitsdokumente.
Tawana sê hulle voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagtes geld kan uitleen en ook dwelms op krediet kan verkoop en dat hulle die kliënte se bankkaarte en identiteitsdokumente as sekuriteit hou.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Jan Kempdorp-landdroshof verskyn.





