Amanda Loots, van Kimberley, het as kind twee verdiepings ver geval en oorleef. Vandag bring sy ‘n boodskap van hoop aan ander.
As kind geval
“Ek was 16 maande oud en het by ‘n blok woonstelle in Standerton, waar my tannie gebly het, deur die reling van die brandtrap, twee verdiepings ver, geval. My pa het agter my aan gespring en toe ek val, toe land hy saam met my. My pa was destyds ‘n gekwalifiseerde paramedikus en ‘n reservis in die polisie.
Die hospitaal op Standerton kon nie my beserings hanteer nie en my pa en ma het met my deurgejaag Pretoria toe. Daardie jare moes my ouers nog R5 betaal voordat hulle kon petrol ingooi, omdat dit oor ‘n naweek was en ná 20:00 in die aand was. My pa het net so oor die 50 minute Pretoria toe gejaag terwyl my ma, wat self by die ambulandienste gewerk het daardie jare, my aan die lewe probeer hou het. Sy het met my op die agterste sitplek van hulle motor gesit. Die hele span dokters van die Eugene Marais-hospitaal het vir my ouers buite gewag.”
Besering
“My ribbes en my hand was gebreek. Ek het ‘n skedelbasisfraktuur en ‘n ingedrewe fraktuur in my skedel gehad. Dokters kon niks vir my doen nie. Daar was toe in dieselfde ongevalle-eenheid ‘n kind wat ingekom het wat dood is nadat ‘n matras op hom geval het. Ek wat twee verdiepings ver geval het, het egter geleef. Vir die dokters was ek niks anders as ‘n wonderwerk nie. My ma moes vir ‘n maand lank in Pretoria agterbly en na my kyk. Ek mag nie enige stamp gekry het nie, want dit sou fataal wees.”
Lewe vir ‘n rede
“Ek dink God het my lewe gespaar omdat my taak op aarde nog nie voltooi was nie. My ouers het ook baie sleg gevoel, maar dit was nie hulle skuld nie. Ek het uit my pa se hand losgeruk en na die trappe gehardloop. My ma was toe reeds by die steentrappe af.
Ek glo wonderwerke gebeur nog elke dag, ek is vir seker ‘n bewys van een! God wil ons bewus maak van Sy alomteenwoordigheid en almagtigheid.”
Boodskap aan ander
“Moet nooit ophou glo dat daar hoop is nie. Al lyk dinge soms hoe donker, wonderwerke gebeur nog elke dag.”



