September 24, 2021

Familie emosioneel na Adelaide (2) se dood

Adelaide Ricketts (2), wat gisteraand in Vergenoeg oorlede is, se oudste suster, Zelda Ricketts, het emosioneel aan FiND iT gisteraand se gebeure vertel.

Zelda sê Adelaide was buite saam met hulle ma en ouer sussie, Bokamoso (4). “Hulle het buite gespeel toe my ma vir mense in die straat vra of sy hulle badkamer kan gebruik. Sy het vir Bokamoso en Adelaide gevra om net daar te sit tot sy terugkom.

“Hulle wou toe egter oor die straat gaan na die snoepwinkel. Bokamoso het die bakkie hoor kom en oor die pad gehardloop, maar sy het vir Adelaide daar gelos. Op daardie oomblik het die bakkie om die draai gekom en bo-oor Adelaide gery.”

Volgens Zelda het die drywer nie ’n lisensie en is hy na die polisiekantoor geneem na die voorval. “Daar was ’n groot wond op Adelaide se kop.”

Zelda sê hulle is baie hartseer oor wat gebeur het. “Ons het dit nie verwag nie en is geskok oor die voorval. My ma is baie swak.”

Zelda se ouma het verkies om nie te praat nie, omdat sy nog baie geskok en hartseer is.

“My ma het ’n begrafnispolis by Absa vir my sussie uitgeneem toe sy gebore is. Volgens beplanning is die begrafnis Woensdag, 17 Julie 2019.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *