Kyk wéér – Deel 1

Meagan Fourie (31) en haar man, DJ, is dubbeld met liefde geseën met die geboorte van hulle tweelingseuntjies, Reon en Ruben.

“Lewe met ‘n tweeling is nie altyd maklik nie, veral nie wanneer jy ander kinders ook het nie,” sê Megan. Sy, haar man en hulle vier kinders, Emke (6), Diamé (3), Reon en Ruben (10 maande) bly al vier jaar in Monumenthoogte. Sy vertel vir FiND iT van die uitdagings en die blessings van ‘n tweeling-mamma wees.

Hulle het eers in Schweizer-Reneke gewoon, maar het Kimberley toe getrek omdat daar meer geleenthede vir hul kinders is. “Daar is ook nie ‘n kleuterskool in Schweizer nie en dit was vir ons belangrik dat Emke in ‘n skooltjie moet wees.”

Hoe het sy gevoel te sy uitvind sy is swanger met ‘n tweeling?

“Ek het begin lag, maar ek dink dit was meer uit skok. Na die skok, het ons baie opgewonde geraak, maar was tog ook bang. Mens hoor altyd aaklige stories van tweeling-swangerskappe waar die baba’s te vroeg gebore word. Ek het darem geweet wat vir my wag omdat ons reeds twee dogtertjies het.”

Hoe was haar swangerskap?

“My swangerskap met die tweeling was defnitief moeiliker as die vorige twee. Dit is asof alles moeiliker is in jou derde swangerskap. Ek het hoë bloeddruk gehad en was twee keer in die hospitaal opgeneem.”

Op hoeveel weke is Reon en Ruben gebore?

“Hulle is op 36 weke gebore. Ek het ‘n keiser gehad, soos met my vorige swangerskappe. Tydens die keiser is hulle onmiddellik Intensiewe Sorg-eenheid toe geneem en kon ek hulle eers die volgende dag sien. Hulle was vir 12 dae in die Intensiwe sorg-eenheid op suurstof en om te kan groei. Verder het hulle niks probleme gehad nie en was ek net bly dat hulle okei was. Reon het 2kg en Ruben 2.5kg geweeg. Ons dokter het ons goed voorberei, maar ek het nog steeds daardie eerste oomblikke met my babas gemis.”

Het hulle enige spesiale voorbereiding getref vir die tweeling?

“Ons het na die Mama Magic Pregnancy Expo in Johannesburg gegaan omdat ons gesukkel het om in Kimberley ‘n tweeling-stootwaentjie te kry. Ons moes twee van alles koop en al ons ou babagoed verkoop. Ons het ook my ooievaarstee baie vroeg gehou, op 23 weke, omdat ons bang was die babas word baie vroeër as verwag gebore.”

Hoe voel dit om ‘n tweeling-mamma te wees?

“Besig. Partydae is dit chaos, maar lekker. Dit is eintlik glad nie so moeilik soos wat ek gedink het dit gaan wees nie. Hulle is glad nie sieklik nie en mens kom baie vinnig in ‘n roetine. Ek dink dit is dalk instink of omdat mens nie ‘n keuse het nie, maar mens kom altyd reg. Ek was baie bang oor hoe ek twee babas sal hanteer, maar dit raak al hoe makliker soos hulle groter word.”

Hoe verskil Reon en Ruben van mekaar?

“Toe hulle kleiner was, kon mens nie regtig enige verskil sien nie, maar nou dat hulle bietjie ouer is, begin ek die verskille agterkom. Reon is meer onafhanklik as Ruben. Reon was wel die kleinste een tussen die twee, maar het altyd die minste aandag geverg. Hy is ook altyd tevrede om alleen te speel. Ruben is meer die moeilike baba. Hy huil baie maklik en verg baie aandag. Hy is baie mamma-vas en wil baie opgetel word.”

Het hulle ‘n tweeling-verbinding?

“Ek sal nie eintlik se hulle het ‘n tweeling-verbinding nie. Ek glo as jy enige twee babas van geboorte af bymekaar sit, sal hulle ‘n hegte band vorm. Meskien gebeur dit dalk as hulle ouer is. Soms lag hulle wel vir mekaar uit die bloute uit. As die een huil, sal die ander een ook begin huil. Dit is asof hulle mekaar aansteek.”

Wat is die lekkerste deel van ‘n tweeling-mamma wees?

“Die lekkerste deel vir my is hulle interaksie met mekaar. Die laggies en geselsies. Hulle speel lekker saam.”

Wat is die slegste deel van ‘n tweeling-mamma wees?

“Die slegste vir my is dat ek my aandag moet verdeel, reeds omdat ons twee ander kinders ook het. Mens wonder altyd of jy genoeg aandag aan almal gee. Soms voel ek skuldig dat ek een dalk op ‘n spesifike dag meer aandag gee as die ander een. Ek probeer opmaak daarvoor, maar mens sal nooit eintlik kan nie. ‘n Mens het nie altyd daardie individuele tyd met twee babas soos wat mens net met een baba het nie.

“Dit vat ook goeie beplanning om êrens heen te gaan. Daar is nie ‘n manier wat ek met al vier alleen kan dorp toe gaan nie. My man moet altyd by wees.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: