Die Bloodhound LSR-span van Engeland beplan om in Oktober ’n hoëspoed-toetsren op Hakskeenpan in die Kalahari, Noord-Kaap, uit te voer.
Ian Warhurst, die uitvoerende bestuurder van Bloodhound LSR, sê hulle is baie opgewonde om die datum vir die eerste toetsren in Suid-Afrika aan te kondig.
“Dit is ’n unieke lanspoedrekord-veldtog, wat met die nuutste digitale tegnologie soos computational fluid dynamics (CFD) die span in staat stel om die motor te ontwerp en verrigtingdata onmiddellik te kan deel.”
Verskeie aspekte van die motor is ná die suksesvolle toetsren in 2017 by Cornwall-lughawe verander. Luidens ’n persverklaring word die toetsren uitgevoer om data oor die verrigting en hantering van die motor te kry. Dit dien ook as ’n toets vir die finale landspoedrekordpoging.
Die mees voor die hand liggende verandering is die wiele wat geruil is vir soliede aluminiumwiele. “Dit is spesiaal vir woestynagtige toestande ontwerp. Dit is krities om dit teen hoë spoed te toets vóór die finale rekordpoging,” verduidelik Warhurst.





