Seun (3) verdrink in kanaal voor neef

Deel hierdie storie / Share this story

’n Driejarige seun het na bewering verdink toe hy in ’n kanaal op Hartswater geval het.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder vir die polisie in die Noord-Kaap, sê: “Die twee seuns het ongeveer 15:30 op 24 Junie naby ’n kanaal in die omgewing van Riemvasmaak op Hartswater gespeel toe die voorval plaasgevind het. Dit is nog nie duidelik of die seun in die kanaal gegly of gespring het nie.”

Voorts sê hy: “Die 10-jarige seun het gehardloop om hulp te gaan soek en die polisie is ontbied. Enige persoon met inligting oor die saak kan adj.-konst. Melvin Davids by 053 474 1438 skakel. Die ondersoek duur voort.”

Die polisie maan mense om die volgende waterveiligheidswenke na te kom:

  • Vermy om op die rand van damme, kanale, riviere of moerasse te loop.
  • Kinders wat in die water gaan, moet ten alle tye onder die toesig van ’n volwassene wees.
  • Ouers moet hulle kinders leer van die gevare wat water kan inhou.
  • Mense word aangemoedig om baddens en klein swembaddens leeg te tap omrede dit kinders kan lok om in die water te speel.
  • Moet nooit in die water spring om iemand te probeer red indien jy self nie kan swem nie.