“Ek was in my vroeë twintigs, pas getroud en het pas by my eerste werk begin na universiteit. My baas, ‘n man, was van die begin af te oorvriendelik met my, maar ek het nie veel daarvan gedink nie. Dit was my eerste werk en ek was regtig nie seker hoe die werksverhoudinge veronderstel was om te werk nie.”
“Daar was ‘n paar gevalle waar ek erg ongemaklik gevoel het. Soms sou hy opmerkings van ‘n seksuele aard maak wanneer ons alleen was. Ek het dit eendag met ‘n werkskollega bespreek en sy het my gerus gestel dat die baas maar so is met almal. Daarvandaan het ek maar net elke opmerking wat hy gelewer het, afgemaak as niks en nie weer verder daaraan gedink nie.”
“Daar is gereeld vir my gevra om laat te werk, maar ek het elke keer ‘n verskoning uitgedink. My man was een week weg vir ‘n kursus en ek is weereens gevra om daardie aand laat te werk. Omdat almal geweet het dat my man nie by die huis was nie, het ek nie ‘n verskoning gehad om nie te bly nie. Daar was werk wat op datum gebring moes word. ‘n Ander dame in die kantoor sou ook laat bly, maar het ‘n halfuur later ‘n oproep ontvang van ‘n noodgeval by haar huis en sy moes gaan.”
“Ek het rustig in my kantoor sit en werk, toe my baas my roep en vra ek moet my werk saambring en by hom in sy kantoor gaan sit. Ek het so gemaak en ons het vir ‘n ruk in stilte gesit en werk. Hy het ewe skielik opgestaan en die kantoordeur gesluit. Ek het paniekerig geraak en gevra wat maak hy. Hy het my beveel om seks met hom te hê. Ek het nee gesê en begin huil. Toe hy sien dat ek nie gaan maak soos wat hy wou hê nie, het hy gevat wat hy wou hê.”
“Ek is direk daarna huis toe, nadat ek hom moes smeek om my te laat gaan en hy my belowe het dat indien ek vir enigiemand daarvan sou sê, hy my man sou bel en vir hom sê ek het uit vrye wil met hom seks gehad en dat ek en hy al vir maande ‘n verhouding het.”
“By die huis het ek onmiddellik gaan stort. Ek het daardie aand huilend in my bed aan die slaap geraak. Ek het nooit vir enigiemand vertel nie, maar het wel my werk sonder kennis bedank. My man glo tot vandag toe dat ek ontslaan is; ek kon net nie vir hom die waarheid vertel nie.”



