Die interdik teen ‘n nagklubeienaar van die stad, is vandag hier van die rol geskrap.
Charles Stone (50), die eienaar van @Stones, het vir ‘n interdik wat teen hom en sy klub aangebring is, verskyn.
Stone is na bewering op 12 Mei 2019 buite die nagklub, wat op daardie stadium in Georgestraat geleë was, aangerand.
Dae na die voorval het ’n vroulike inwoner, Geraldine Blunden, ‘n interdik teen Stone uitgeneem wat hom verhoed om harde musiek by dié eiendom te speel. Blunden woon net agter die eiendom.
Stone is vandag gevra of hy regshulp gaan aanstel. Hy het gesê hy verstaan hy het ‘n keuse, maar hy gaan nie die interdik teenstaan nie.
Rhoda Jooste, die eienaar van die gebou waar @Stones geleë was, was ook in die landdroshof vandag.
“Die plek is reeds toegemaak en gaan nie weer sy deure oopmaak nie. Daar het 14 mense hulle werk verloor,” het sy gesê. “Ek is ook in die proses om die gebou weer uit te verhuur as kantore.”
Landdros Kubashni Padayachee het die saak van die rol geskrap. “Ons wil nie instruksies onnodig toestaan nie,” het sy gesê. “Indien julle enige probleme ondervind in die toekoms, kan julle terugkom hof toe.”




