Ysbeer-swem is om die draai!

Foto: The Telegraph

Die ysbeer-swem is om die draai met net drie dae oor!

Ons kry weekliks koue fronte wat die water- en dagtemperatuur stelselmatig afdruk en die verwagte watertemperatuur van 8⁰C is reeds in sig.

Ysige waters

Die organiseerder, Felix Burri, sê hulle het 24 jaar gelede net 12 swemmers gehad wat die ysige waters van die Sandrivier te Bundukamp in Ventersburg aangedurf het. “Dit was in die middel van die winter en omtrent 12:00. In 2017 het ons 428 swemmers gehad en in 2018 was daar 443 swemmers. Ons staan egter vanjaar reg vir 600 geesdriftiges wat ’n pragtige volkleur medalje sal losswem.”

“Die afstand van 30 m, in donkerbruin water, is reeds vasgestel, met ’n diepte van ongeveer 2 m. Die dagswem, omstreeks 12:00, gaan deur sowat 500 swemmers aangedurf word en ’n pragtige silwer medalje wag vir hulle, saam met jubelende ondersteuners op die oorkantste wal.”

Middernagswem

Dié jaar word die middernagswem vir die eerste keer aangebied en sal om 00:00 plaasvind. “Vir hierdie 50 swemmers wag ’n pikdonker nagswem, wat met ’n Hella-kopliggie aangepak moet word. Die uitdaging is baie groter, omdat dit heelwat kouer is buite, met ’n temperatuur van ongeveer 0⁰C.

“Die ondersteuners aan die oorkant sal ingelig word wie die water ingaan, sodat hulle hulle geliefdes kan aanmoedig, al is hulle nie op daardie afstand herkenbaar nie,” verduidelik Felix.

Die dag se aksie

“Saam met die ysbeer-swem, is daar 4×4-aksie deur die loop van die dag, verversings word vir almal aangebied, daar is geespryse vir spanne, Meneer en Mej. Ysbeerkompetisies, en ‘n kompetisie om die grootste boepens aan te wys, en nog meer. Daar sal ook ’n baardveiling wees. Kort voor die dagswem om 12:00 sal die prysuitdeling vir veskeie van die kompetisies plaasvind.”

Fondsinsamelingsprojek

Felix sê alle hekgeld (R60 per voertuig) asook winste van kos en verversingsverkope gaan aangewend word vir welsysnprojekte in die Goudveld-omgewing.

“Ysbeer-swem is ons grootste enkele fondsinsamelingsprojek. Die opbrengs van die baardveiling sal aan Veterane Hoop geskenk word vir boukostes aan strukture vir oorlogsveterane wat op ’n plaas in die omgewing aan groeteverbouiing deelneem.

In 2018 is ’n baard vir R1 000 opgeveil.

“Die inskrywingsfooi vir dagswemmers is R50 per persoon tot en met 11:15. Daarna sal inskrywings onder by die rivier gedoen kan word teen R60 per persoon. Die inskrywingsfooi vir die middernagswem kos R500 per persoon wat die Hella-koplig en ander waardevolle Goldco Midas-geskenke insluit. Die splinternuwe nagswemmedalje, ’n allemintige 110 mm groot, sal ook losgeswem kan word.”

Vooraf inskrywings is noodsaaklik om plek te bespreek. Kontak Felix by 082 851 4584. (Beperk tot 50 swemmers)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *