Dent Doctor se wenke na ‘n ongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

Almal weet hoe sleg en ongerieflik dit vir ‘n mens is wanneer jy met jou motor in ‘n ongeluk betrokke was. Nie almal is seker wat die proses, met en sonder versekering, is om jou motor te herstel nie. Dent Doctor verduidelik die proses aan FiND iT en gee ook wenke vir wanneer jy in so ‘n situasie is.

Maak ‘n saak by polisie

Wanneer daar ‘n ander party by ‘n ongeluk betrokke is, is dit die beste om ‘n saak by die polisie aan te gee. Die polisie sal jou dan van ‘n saaknommer en ‘n verslag van die ongeluk voorsien, wat jy dan aan jou versekering moet stuur.

Registreer eis by jou versekering

Wanneer jy jou saaknommer en verslag by die polisie ontvang het, moet jy jou eis by jou versekering registreer. Jou versekering sal jou dan na ‘n paneelklopper verwys. Jy kan ook na die paneelklopper van jou keuse gaan. Sekere versekeraars eis drie kwotasies voordat hulle goedkeuring gee. Jou versekering sal dan vir jou ‘n eisnommer en ‘n ongelukbeskrywing gee.

Gaan na jou paneelklopper

Wanneer jy na jou paneelklopper gaan, sal hulle ‘n assessering doen en foto’s neem. Die assessering en foto’s, saam met ‘n kwotasie,sal dan deur jou paneelklopper na jou versekering gestuur word. Sommige versekeraars vereis dat jy self die kwotasies en assessering aan hulle stuur. Jou versekering se digitale assessor sal dan na die verslag en foto’s kyk en goedkeuring gee, al dan nie. In sekere gevalle sal ‘n assessor uitgestuur word om na die voertuig te kom kyk voordat goedkeuring gegee kan word.

Goedkeuring en bestel van onderdele

Goedkeuring vir die herstel van jou voertuig kan enigiets van 48 tot 72 uur duur. Sodra jou versekering goedkeuring gegee het, sal jou paneelklopper die onderdele vir jou voertuig bestel. Indien jy nie versekering het nie, sal jy eers die kostes van die onderdele aan jou paneelklopper moet betaal voordat hulle dit kan bestel.

***Wenk vir mense wat ‘n bybetaling moet maak***

Indien jy ‘n bybetaling moet maak, maak eers seker wat die totale koste sal wees om jou voertuig te herstel. Omdat ‘n bybetaling ‘n vaste bedrag is, kan die herstel van die voertuig dalk minder kos as jou bybetaling en sal dit dus beter wees om eerder self vir die herstel te betaal.

Neem jou motor in vir herstel

Jou paneelklopper sal jou laat weet sodra hulle die onderdele vir jou motor ontvang. Jy kan dan jou motor vir herstel inneem. Let asseblief daarop dat die herstel van jou motor vyf tot sewe werksdae kan neem.

***Wenk vir mense met huurvoertuig-opsie***

Wanneer jy die huuropsie deur jou versekering wil gebruik, maak seker dat jy die huuropsie eers neem vanaf die eerste dag wat jou motor ingaan vir herstelwerk. Deur die huuropsie onmiddellik te neem, kan die proses lank duur om goedgekeur te word en onderdele om op te daag, sodat die huuropsie op jou motor se tydperk al verby is teen die tyd wat jou motor vir herstelwerk moet ingaan.