Chaos en onsekerheid by raadsvergadering na publiek uitgesluit is

’n Raadsvergadering het vanoggend 25 Junie by Sol Plaatje-munisipaliteit in chaos begin nadat die deure vir die openbare galery ongrondwetlik gesluit gehou is, sê ’n raadslid.

Joernalis rof by raadsaal uitgegooi

“Dit was chaos hier in die raadsaal vandag. Die deure na die openbare galery was ongrondwetlik gesluit. Charne Kemp, ’n joernalis van die Volksblad, is rof behandel en sy is van die raadsaal uitgesluit,” sê Philip Vorster, ’n DA-raadslid.

Raadslid wat bedank het, is weer teenwoordig

Voorts sê hy: “Die wanorde het begin nadat die leier van die EFF op ’n punt van orde die speaker ingelig het dat ’n raadslid van ’n opposisieparty wat in die vorige week bedank het, weer vandag hier teenwoordig was.”

“Lede het begin gil en skree. Ons kon glad nie hoor wat aangaan nie. Drie sekuriteitsbeamptes het probeer om die leier van die EFF uit die raadsaal te verwyder.”

“Die agenda vir die vergadering was om ’n nuwe waarnemende munisipale bestuurder te kies. Die dokumentasie wat aan ons verskaf is, het nie enige kandidate aangewys nie,” verduidelik Vorster.

Andrew Louw, provinsiale DA-leier vir die Noord-Kaap, sê: “Die 106-verslag waarop die premier van die provinsie ook aangedring het, is nog steeds nie bespreek nie. Dit gaan my verstand te bowe dat die premier en voorsitter van die ANC, Zamani Saul, nie toesien dat sy volgelinge en raadslede gehoorsaam is aan die besluite wat deur hulle party geneem is nie. Die raadsvergadering het so hand uit ggeruk dat ons in hierdie stadium nog nie met sekerheid kan sê wie die waarnemende munisipale bestuurder is nie.”

Voorts se hy: “Daar is waarskynlik voorgesê om niemand anders as die voormalige finansiële bestuurder van Sol Plaatje-munisipaliteit Lydia Mahloko, weer vir hierdie posisie aan te wys nie. Dit nadat sy twee keer in die 106-verslag genoem is en ongeveer twee week gelede amptelik geskors is. Sy het nie binne die sew dae grasie redes ingedien hoekom sy nie geskors moet word nie.”

Onwettige besluit plaas munisipaliteit in posisie van oneer 

Chris Phiri, DA-hoofsweep in die Noord-Kaap, sê: “Dié is ’n fiasko wat vandag hier by die raadsvergadering plaasgevind het. Eerstens is ’n joernalis uit die raadsaal gejaag nadat sy net ’n doodgewone foto wou neem. Tweedens bevraagteken ons hoekom die speaker die instruksie gegee het om die openbare galery gesluit te hou.”

Voorts sê hy: Ek het op ’n punt van orde gevra of hierdie vergadering konfidensieel is, maar niemand het op die vraag reageer nie. Ek het beveel dat die galery oopgesluit word, maar my instruksies is ook ignoreer. Die speaker het daarom die gedragskode van die raad oorskry en die munisipaliteit in ‘n posisie van oneer geplaas. Jy kan nie ’n besluit neem as dit nie wettig is nie. Ons het ook aangevra dat enige kandidaat wat voorgelê word, se kwalifikasie en getuigskrifte noukeurig nagegaan moet word.”

Die woordvoerder van Sol Plaatje-munisipaliteit, Sello Matsie, sê: “Ons kan bevestig dat ’n klag deur ’n joernalis by die munisipaliteit ingedien is, maar ons kan ongelukkig nie verder daarop uitbrei nie. Volgens die munisipaliteit is daar nog nie ’n nuwe waarnemende munisipale bestuurder aangewys nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *