’n Man (37) van Springbok is Vrydag 21 Junie in hegtenis geneem nadat hy na bewering fopdiamante vir R40 000 probeer smous het.
Nomthandazo Mnisi, woordvoerder vir die Valke in die Noord-Kaap, sê: “Die Valke het ’n wenk ontvang en het onmiddellik die verdagte na ’n vergadering gelok. ’n Ooreenkoms is bereik. Die verdagte het die diamante uitgehaal en is net daar in hegtenis geneem. Na ’n ondersoek is dit gevind die diamante is nie eg nie.”
Die provinsiale hoof van die Valke, maj.-genl. Kholekile Galawe, doen ’n beroep op die publiek om nie by onwettige handel betrokke te raak nie. Voorts sê hy: “Dit maak nie saak of jy die koper of verkoper is nie. Geen individu mag buite die raamwerk van die gereg met diamante handeldryf nie. Die publiek moenie ’n mark skep vir kriminele om lede van die publiek verder te bedrieg en te besteel nie.”
Die verdagte sal Maandag 24 Junie in die Springbok-streekshof op aanklag van bedrog en die onwettige besit van fopdiamante verskyn.



