Chloorbomme in Cassandra ruk hand uit

Deel hierdie storie / Share this story

Daar is vanoggend omstreeks 11:00 nog ’n chloorbom in ’n meenthuis-kompleks in Cassandra gevind, dit nadat een gisteraand in die Cassaria-meenthuiskompleks gevind is.

Foto: Die chloorbom wat vanoggend in die kompleks gevind is.

Valerie Fourie, ’n inwoner in die Montagu Park-meenthuiskompleks, het op die chloorbom afgekom en het die buurtwag in kennis gestel.

“Ek het die bottel al gisteroggend gesien toe ek op pad Bloemfontein toe was, maar kon nie lekker sien nie. Ek het gedink dit is dalk net ’n bottel wat met water gevul is wat begin kondensasiedruppels vorm het. Vanoggend toe ek buite is, toe gaan ek kyk en besef dit is dalk ’n chloorbom en nie net ’n watergevulde bottel nie. Die man van die buurtwag het gekom en dadelik die polisie gekontak.”

Valerie sê dit kos na bewering nou al om en by R75 000 om die bomeenheid te laat uitkom. “Dit is ’n duur storie. Dit voel vir my asof die komplekse vir ’n spesifieke rede geteiken word.”

’n Chloorbom wat ontplof, gee gevaarlike gasse af wat die membrane in jou neus, keel en oë aantas.

FiND iT het navrae by die polisie gedoen en hou jou op hoogte.