Laerskool Diamantveld ’n teiken vir inbrake

Foto: Diamantveld Primary School - Weebly

Almal is bly dit is skoolvakansie, behalwe Laerskool Diamantveld wat sedert Maart deur diewe geteiken word.

Sedert die skool ‘n week gelede gesluit het, is daar al drie keer ingebreek, waartydens duisende rande se toerusting buit gemaak is. In Februarie is die skool se hekmotor drie dae nadat dit geïnstalleer is, gesteel. In die Maart-vakansie was daar agt inbrake, waartydens skootrekenaars, monitors, projektors en sekuriteitskameras gesteel is.

Die skool het wagte van Scorp Security aangestel om saans op die skool se perseel diens te doen. Wickus Coetzee, die eienaar van Scorp Security, het aan FiND iT gesê sy wagte doen saans, as hulle 18:00 by die skool aankom, ’n deeglike inspeksie en het gisteraand gesien die JoJo-tenk se pomp is gesteel. “Dit is hartseer om  te sien hoe alles by die skool gesteel word.”

“Vroeër die week is daar ook ingebreek, toe die grassnyer, boor, grawe, harke en meer gesteel is. Hierdie toerusting was binne-in die skool se stoorkamer toegesluit. Die verdagtes breek helder oordag in, wanneer die wagte nie daar is nie. Die klasse se deure word oopgebreek om by die waardevolle toerusting uit te kom, wat die skade net nog meer maak.”

Coetzee sê sy wagte het al talle kere mense weggejaag wat by die skool rondhang. “Ek hoop ons kan die mense vang wat heeltyd so inbreek by die skool. Hulle het omtrent al alles wat van waarde is by die skool gesteel.”

Nog ’n wag, wat deur die dag by die skool gaan wees, is deur Scorp Security en FiND iT geborg. Die wag sal daagliks daar wees totdat die skool weer oopmaak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *