DURBAN. – Vlug FA 411 van FlySafair is vanoggend vertraag en toe later gekanselleer, na ’n skokkende bevinding tydens die finale deursoek van die vliegtuig.
Die vlug wat om 06:15 van die King Shaka-internasionale lughawe na Johannesburg sou vertrek, is eers vertraag en eindelik gekanselleer, waarna die passasiers gevra is om die vliegtuig te verlaat.
“Tydens die finale voorbereiding van die afvalbestuurstelsel, vir die vertrek van die vlug, het ons tegniese bemanning iets ontdek, wat blykbaar ‘n verlate fetus binne die stelsel was.”
“Ons het dadelik die owerhede in kennis gestel en kan ongelukkig nie meer kommentaar lewer op enige besonderhede wat verband hou met die bevinding, wat nou ‘n polisiesaak is nie,” lees die verklaring van die lugredery.
Kirby Gordon, hoof van verkope en verspreiding by FlySafair, sê hulle sal alles in hulle vermoë doen om owerhede met die nodige ondersoeke te help en bedank ook hulle lojale kliënte vir hulle geduld met die gevolglike vertraging.




