Uitreik na behoeftige Telma-sentrum

Deel hierdie storie / Share this story

Morgan Keyser (16), ’n gr.10-leerder by Hoërskool Adamantia, het besluit om die jaar deel te neem aan die Mnr. en Mej. Addie-gemeenskapsprojek.

Foto: Morgan Keyser

Sy is as een van die jaar se finaliste aangekondig en het besluit om haar projek op die Telma-sentrum in Kimberley te fokus. Telma-sentrum is ’n instansie vir mishandelde vroue en kinders.

Behoeftebepaling

“Ek het die projek gekies omdat ek gevoel het dit dien ’n goeie doel, want geen vrou of kind moet ooit in so ‘n situasie geplaas word nie. Kinders is ons land se toekoms,” verduidelik Morgan. Ek het ’n behoeftebepaling by die sentrum gaan doen en het vasgestel hulle het ’n behoefte aan ’n vrieskas en vleis.”

Morgan het die DCD-motorfietsklub genader om haar te help met haar projek en so is die bedrag van R12 500 ingesamel.

DCD Deep Freeze Run

“DCD-motorfietsklub het ’n baie groot rol in my projek gespeel. Hulle het my gehelp met die reëlings vir ’n motorfietswedren wat ons op 25 Mei 2019 aangebied het. Ek glo nie my projek sou so ‘n groot sukses gewees het sonder hulle hulp nie. Ons het die projek die DCD Deep Freeze Run genoem en die inskrywingsfooi was R100. Ons het vanuit Kimberley vertrek na Windsorton, Choppers, Phoenix en toe afgesluit by Route 64 waar ons ’n steak-ete gehou het,” vertel sy.

“Met die geld wat ons ingesamel het, kon ek die vrieskas met vleis en nog vele ander benodigdhede soos tandeborsels, deodorant en seep aankoop.”

Oorhandiging

“Ons het gisteraand by by die Telma-sentrum bymekaargekom waar die oorhandiging gedoen is. Almal was so dankbaar; daar was trane van dankbaarheid en blydskap.”

NTLO Signs het die kentekens, kaartjies en plakkate wat ons benodig het, geborg en Van Zyl Vleis het afslag gegee op die vleis wat ons aangekoop het. Hulle het ’n groot rol gespeel in die sukses van my projek.”

Foto: Die bike run.
Foto: Die tjek ter waarde van R12 500.
Foto: Produkte wat vir die sentrum aangekoop is.