Die kerk van die Nasarener het die week weer die jaarlikse vakansie-Bybelskool aangebied, die 24ste jaar dat die program volgehou word.
Die Bybelskool word vir vyf dae tydens die skoolvakansie aangebied en gemiddeld 200 kinders het dit vanjaar bygewoon. Vandag, wat ook die laaste dag van die Bybelskool is, het die kinders liedjies vir Jesus uit volle bors gesing, asook ’n optrede deur die tieners geniet. Die saal was stampvol met ouers wat hulle kinders in hulle element kom aanskou het.
Tieners opgelei
“Ons het laasweek ’n klomp tieners opgelei, sodat hulle vandeesweek met die kinders kon help. Hulle het die leiding geneem en Bybellesse vir die kinders aangebied. Ons het ook ’n aparte klassie vir die 4- tot 5-jariges en pas die lessies by die ouderdomsgroep aan. Ons tema vanjaar was Wapenuitrusting vir Jesus,” sê ds. Annelie Bothma. “Die kinders het liedjies geleer, verse gememoriseer en poppekas gehou.”
“Polisielede was ook Woensdag hier met hulle “wapenuitrusting”. Almal wat vanjaar met die Bybelskool gehelp het, is vrywilligers. Van die mammas het tot verlof geneem sodat hulle die week kon uithelp.”
Sendelinge en dominee
Annelie spog ook met ’n paar Bybelskool-kinders wat sendelinge geword het of vir predikant studeer. “Dit maak my hart so bly. Ons het vier kinders wat na die Bybelskool toe kom sedert hulle in die laerskool was. Twee word nou sendelinge, een is reeds ’n sendeling en een studeer om ’n dominee te word.”
Johanna Bergh, wat gehelp het met vanjaar se uitrustings, sê ds. Johan en Annelie het die saal verskriklik mooi opgemaak met die tema Army en knights. “Hulle doen verskriklik baie vir die jeug.”








