Pienk-gekleurde water wat tydens ’n inspeksie by die Homevale-watersuiweringsaanleg opgemerk is, kan steeds nie verduidelik word nie. Dit kan ook moontlik ’n gevaar vir die ekosisteem van Kamfersdam inhou, sê ’n plaaslike ekoloog.
Hans Oliphant, ’n oud-werker by die aanleg, wat meer as 25 jaar daar gewerk het, sê: “Ek het in al die my jare van diens by die watersuiweringsaanleg nog nooit water gesien wat so pienk van kleur is nie. Ek is ook nie bewus van enige chemikalieë wat die water pienk kan kleur nie.”
Tania Anderson, ’n ekoloog, sê sy is nie van die probleem bewus nie. “Die water sal dadelik getoets moet word om seker te maak dit is nie ’n bedreiging vir die flaminke nie.”
FiND iT het gevra of dit moontlik deur ’n poging om die toestand van die water by die dam te verander, veroorsaak is. “Dit klink soos ’n samesweringsteorie. Ons het nog nooit van so plan of eers die idee daarvan gehoor nie. Die kleur kan moontlik deur alge veroorsaak word,” sluit Anderson af.
Gawie van Dyk, van die department van water en sanitasie, sê: “Die plaaslike munisipaliteit is hier verantwoordelik. Ons glo nie hulle sal dit toelaat nie.”
FiND iT het die munisipaliteit vir duidelikheid genader, maar het geen terugvoer teen tyd van publikasie ontvang nie.



