KIMBERLEY.- Lede van die Kimberley SAPD het op Dinsdag 18 Junie 2019 inligting oor koper by ‘n skrootwerf in Beaconsfield ontvang. Dié lede was a.o. Van der Merwe, sersante Clark, Hassen, Qashu, Mocogo en Moeti, en konstabels Joggem en Jacobs.
Kapt. Tessa Jansen sê hulle het mnr. Pienaar, wat ‘n kundige is om koper te identifiseer, saam met hulle geneem om te help met die ondersoek. “By aankoms het die polisielede die bestuurder vir sy tweedehandse goedere-register asook vir die koper, wat die bestuurder verlede week gekoop het, gevra. Hulle het toe ontdek dat daar koperkabels is wat nie op die register aangedui word nie. Mnr. Pienaar het dit as die eiendom van Transnet geidentifiseer.”
Dié kabels se totale gewig was 580 kg, met die waarde van ongeveer R46,400.
Die bestuurder kon nie bewys by wie hy die gesteelde koperkabels gekoop het nie en is daarom gearresteer en aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Die waarnemende stasiebevelvoerder, kol. Sam Nkosi, het die lede vir hulle spoedige reaksie gelukgewens en het die gemeenskap aangemoedig om hierdie tipe misdaad aan te meld, want gesteelde goedere is altyd iemand anders se verlies.
Die verdagte het vandag in die Kimberley-landdroshof verskyn.




