KIMBERLEY. – Ondernemings in Port Nolloth, Kleinsee en Alexanderbaai is tydens Operation Phakisa vir gesteelde goedere en dwelms deursoek.
Kol. Dikamatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê verskeie eenhede van die SAPD in die Noord-Kaap, tesame met lede wat die departement van landbou, bosbou en visserye, die departement van omgewingsake en natuurbewaring, SANPARK en binnelandse sake insluit, het aan dié klopjagte deelgeneem.
Mooi sê die klopjagte, wat oor drie dae gestrek het, het spesifiek op ondernemings in die hawens op dié dorpe gefokus.
Die klopjagte is deur verskeie afdelings van die polisie uitgevoer, wat insluit voet-, lug-, grenslyn en mynpatrollies.
Verdagtes
Drie verdagtes, waaronder ‘n minderjarige, is vir die handel in dagga in hegtenis geneem.
“Die verdagtes is 16, 32 en 36 jaar oud. Die polisie het hulle in ‘n huis op Port Nolloth met dagga van sowat R15 500 gevang. Die minderjarige is in die sorg van ‘n voog gelos en al drie verdagtes sal binnekort in die hof verskyn,” sê Mooi.
Boetes van ongeveer R1300 is vir verskillende misdrywe, wat met die mariene-wet verband hou, uitgereik.
“Twee mense is met sakke, wat moontlik met diamantgruis gevul was, betrap. Die saak word ondersoek. Nog twee buitelandse burgers is weens oortreding van die immigrasiewet aangehou.”
Prys vir goeie werk
“Die bestuur van die SAPD in die provinsie bedank al die belanghebbendes vir hulle harde werk om seker te maak die klopjagte was ‘n sukses,” beaam Mooi.





