Veras met koerante ontstel gesin

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Koerantpapier en kartondose is glo hier gebruik om die oond wat ‘n persoon oor die naweek veras het, aan te steek.

Gavin van Rooyen, ‘n FiND iT-leser, sê sy familie is geskok na die diens wat hulle van ‘n plaaslike krematorium ontvang het.

“Die raamwerk van die oond trek los. Die man wat in beheer was van die verassing, het koerantpapier en kartondose gebruik om die oond aan die brand te steek. Dit is baie disrespekvol teenoor die dood en so ook ons wat gebruik maak van hulle dienste.”

Van Rooyen sê dit is “skrikwekkend” in watter toestand die krematorium is.

‘n Werker by die krematorium, het aan FiND iT bevestig die oond benodig ‘n vonkprop. Hy moet dus die oond met koerantpapier aansteek.

Mnr. Tumi Assegaai, eienaar van Kimberley Crematorius, sê aan FiND iT die oond is nie in ‘n toestand nie. “Dit is metaalplate wat uitgehaal word en skoongemaak word. Dit word weer teruggesit. Dit kan wees hoekom dit dalk vir die familie gelyk het of die oond los is.”

“In die Hindoe-geloof word die besittings van die persoon eerste veras. Die familie het dit self aangesteek. Die verassing is ook as ‘n guns vir die familie gedoen. Ons doen nie gewoonlik verassings oor naweke nie. Ons het ‘n gewone krematorium. Die plekke in Johannesburg is dalk baie meer fancy.”