Die vriendin van ’n man wat vanoggend in die hof op aanklag van seksuele aanranding verskyn het, het in die hof aan FiND iT gesê sy gaan FiND iT se joernalis dagvaar.
Die dreigement volg nadat ’n plaaslike Engelse koerant op sy voorblad publiseer het ’n “Afrikaanse aanlyn koerant” het die identiteit van die dogtertjie wie die man na bewering seksueel aangerand het, bekend gemaak. Die koerant het op sy Facebook-blad geskryf die seksuele-aanrandingsaak van Galloway het ’n “onverwagse wending” geneem nadat ’n Kimberley “media-huis” die identiteit van die minderjarige meisie bekend gemaak het.
Dié Engelse dagblad berig self ook oor die Galloway-saak, maar was vir die eerste paar verskynings nie self in die hof nie. Die Engelse dagblad se joernalis was ook nie vandag in die hof te sien nie.
Hansie Galloway, die verdagte in die saak, en sy vriendin het in die hof aan FiND iT se joernalis bevestig hulle wil die Afrikaanse media-huis, FiND iT, dagvaar, asook die joernalis wat die vorige berigte oor Galloway gedoen het. Die vriendin het ook aan FiND iT se joernalis bevestig sy wil FiND iT uit die hofverrigtinge hou en sy het FiND iT se joernalis verbied om foto’s van Galloway te neem.
Johan Retief, ombudsman van FiND iT, het beslis FiND iT het nié die meisie se identiteit bekend gemaak nie.



