VIDEO: Vermeende verdagte in Carringtonweg

Deel hierdie storie / Share this story

’n Inwoner van Kimberley het ‘n video op buurtwaggroepe gedeel waar twee verdagtes, met ’n hond, in die vroeë oggendure oor ’n heining van ‘n huis in Carringtonweg klim en die hekmotor steel.

Saam met die video het hy ’n stemboodskap gedeel om te verduidelik wat op die video aan die gang is.

“Daar is ’n man wat rondloop met ’n hond. Hy maak asof hy ’n sekuriteitswag is wat op patrollie is in die buurt. Die video is van ’n huis wat in Carringtonweg geleë is, waar hulle sowat ’n week gelede ’n hekmotor gesteel het. Hy werk saam met ’n tweede verdagte, asook ’n hond; lyk my die hond is opgelei. Julle sal kan sien as hy die motor afgehaal het, hoe gee hy hom oor die muur aan, dan kom daar ’n man van anderkant die muur.”

Die inwoner sê verder die rede vir die video is sodat inwoners in hulle buurt kan dophou. “Indien jy ’n man sien wat rondloop met ’n hond en hy lyk verdag, moenie dink hy is ’n sekuriteitswag nie. Vra of vind uit of sit dit op die groep. Hulle raak al hoe meer skelm.”

Warrick van Schalkwyk, ’n besigheidseienaar wat hekmotors installeer en vervang, het aan FiND iT gesê hy word daagliks gebel om gesteelde motors te gaan vervang. “Daar is goed wat jy kan doen om te voorkom dat jou motor gesteel word, soos om ’n anti-lift rail op te sit en ’n anti-theft bracket oor die motor. Skelms kyk watter huise nie hierdie twee toestelle het nie en teiken hulle dan.”

Kyk die video hier: