Die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, het in die week in ’n spesiale vergadering met Sol Plaatje-munisipaliteit vergader om ’n provinsiale geïntegreerde beplanningskomitee, wat op die ontwikkeling van die munsipaliteit fokus, te stig.
Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premierskantoor in die Noord-Kaap, sê: “Die premier wil sy beloftes ten uitvoer bring om dienslewering in die provinsie te verbeter. Die stigting van die komitee is in lyn met die visie wat die premier met sy intreerede genoem het. Om ’n moderne, groeiende, suksesvolle provinsie te bou, moet Kimberley sprankel.”
“As die hoofstad van die provinsie moet Kimberley groei en ontwikkel om die res van die provinsie te laat groei. Daarom moet Kimberley ontwikkel word as die middelpunt van ’n moderne en suksesvolle provinsie,” verduidelik Saul.
Thomas-Abrahams sê: “Die vergadering is deur die uitvoerende raad, die uitvoerende burgemeester, Patrick Mabilo, die burgemeesterskomitee en die uitvoerende bestuur van die munisipaliteit bygewoon.”
Voorts sê sy: “Senior beamptes van beplanning by Frances Baard-distrikmunisipaliteit asook senior staatsbeamptes van die provinsiale regering sal by die voorgestelde ingrypings betrokke wees.”
“Die taak is nou om na die ontwikkelingsplan van die stad te kyk en te bespreek hoe ons die wiele aan die rol gaan sit om die stad te laat groei. Die plan vorentoe sal in die volgende twee weke deur die premier aangekondig word.”
“Mabilo het die inisiatief verwelkom. Die burgemeester het homself en die hele munisipaliteit se samewerking aan die inisiatief belowe,” sluit Thomas-Abrahams af.



