Motorfietsryer vlieg deur lug na botsing

Deel hierdie storie / Share this story

Dewald du Plessis (19) is gistermiddag omstreeks 17:10 op pad huis toe op sy GSX 1300R Suzuki Hayabusa beseer toe hy en ’n silwer BMW oorkant die Airport-hotel in McDougalstraat gebots het.

Motor wou U-draai maak

“Die bestuurder van die BMW het afgetrek en voor die huis se hek gestop. Die eienaar van die huis het hom gevra om vorentoe te trek, omdat hy hulle ingang versper het,” verduidelik Dewald. “Hy wou toe sommer ‘n U-draai maak, maar het geen aanduiding gegee van sy intensies nie. Die afstand tussen ons was te klein vir my om uit te swaai of tot totale stilstand te kom, alhoewel ek my bes probeer het om te stop.”

“Die reën het dit nog moeiliker gemaak om te stop. Ek het my agterrem getrap asook my voorrem getrek, maar dit het nie veel gehelp nie. Ek het in daardie stadium my voorrem harder getrek, sodat my agterwiel nie meer op die grond was nie, maar ek het hom steeds getref.”

Beserings

Dewald vertel hoe gelukkig hy is om so min beserings te hê. “Ek het met my bors die gedeelte van die kar waar die dak en deur by mekaar kom getref en het toe bo-oor die dak gevlieg. Ek onthou net hoe ek drie keer gerol het toe ek die grond tref. My hand en linkerskouer is beseer. My regterduim is uit lit en my regtervoet is geswik. Ek besef hoe gelukkig ek is.”

“Ek sê net dankie vir die Here dat Hy my veilig gehou het en ek daar kon opstaan en weer huis toe gaan gisteraand. Dankie aan die ambulansdiens wat my hospitaal toe geneem het en ook almal wat by ons gestop het om te help. Dan ook vir die tannie wat vir my haar sambreel geleen het. Ek is net jammer die sambreel het gebreek,” sê hy laggend.

Dewald op sy motorfiets na die ongeluk