Bejaarde gestamp deur werker in ouetehuis

Elize Devenish (79) se familie het ‘n klag van aanranding by die polisie ingedien nadat Elize deur een van die kombuiswerkers op 22 Mei 2019 by die Ons Tuiste in Engo se sentrum vir bejaardes in Bloemfontein gestamp is. Sy wou glo net ‘n bakkie jogurt na ontbyt geneem het.

Charl Devenish, Elize sê seun, het dit aan FiND iT bevestig.

Charl vertel sy ma het hom self na die insident gebel. “Ek was redelik ontsteld en het die tehuis gekontak. Die hoof het gesê hulle sal ondersoek instel en uitvind wat aangaan.”

Met sy aankoms by die tehuis is die beeldmateriaal dadelik aan hom beskikbaar gestel.

“Ek het my ma dokter toe geneem en die dokter het vermoed haar hand het seergekry. Sy is toe vir X-strale gestuur. Nadat sy gediagnoseer is met ‘n fraktuur in haar hand is sy dieselfde aand geopereer.”

Sy is tans in ‘n rolstoel.

Volgens Charl is sy ma, wat al 11 jaar in die ouetehuis is, okei. “Haar lies het ook seergekry van die val, maar daar is gelukkig nie ‘n breuk nie.”

Die beeldmateriaal, wat wys hoe Elize vir meer as vyf minute op die vloer in pyn lê, het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.

Op die beeldmateriaal kan mens sien hoe daar ‘n woordewisseling tussen Elize en die werknemer is. Elize stap na die tafel om die jogurt te vat waarna die werker haar stamp. Elize verloor haar balans en val op die vloer.

‘n Verpleegkundige, wat tydens die insident in die eetsaal was, ignoreer die insident. Sy het haar wel later, nadat Elize al ‘n geruime tyd op die vloer gelê het, help regop sit.

By navraag het die Ons Tuiste aan FiND iT gesê daar sal later vandag (Woensdag) ‘n dissiplinêre verhoor plaasvind. Hulle neem ook verantwoordelikheid vir Elize se mediese kostes.

Elize is na ‘n ander afdeling in die tehuis geskuif waar sy nou 24 uur onder toesig en ‘n kamera is. “Dit is baie sleg wat met my ma gebeur het, maar in die stadium is ek gerus dat sy okei is na die hoofsuster met my gesels het. Tog sal daar altyd ‘n stemmetjie in my kop wees wat my laat wonder of sy okei is.”

Elize Devenish.
Foto: Charl Devenish

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: