‘n Wit Citi Golf wat Maandag 20 Mei omstreeks 04:00 uit ‘n erf in Barkleyweg gesteel is, is Sondag 26 Mei in Homelite opgespoor.
Verdagtes is in hegtenis geneem en sal vandag in die landdroshof verskyn. Die voertuig is kaal gestroop en al wat van die motor oor is, is ‘n leë dop. Die voertuig is van sy deure, sitplekke, enjin, stuurwiel, enjinkap en panele gestroop.
Gavin van Rooyen, eienaar van die voertuig, sê hy is baie teleurgesteld. “Ek het vrede gemaak daarmee, dit is net baie seer en hartseer dat my voertuig in so ‘n toestand gevind moes word. Ek het nie nog ‘n motor om op terug te val nie. Ek en my vrou moet van voor af begin spaar vir ‘n nuwe motor. In hierdie stadium is my vrou die enigste een wat werk, omdat ek maagkanker het en tans onbevoeg is om te werk. Dit is ‘n baie groot terugslag vir ons.”














