Verskeie boere en sakemanne in die dorp het onder leiding van Johan van Rhyn saamgespan om ‘n Nissan NP200-bakkie te koop om misdaad te beveg.
Douglas Buurtwag is ‘n groep vrywilligers wat 24/7 patrollies ry en dadelik op klagtes reageer. Hulle is nou betrokke by die skole, tuck shops, veediefstal, dwelm- en wapenkonfiskering en alle ander misdaadbekamping. Hulle is gewone landsburgers wat net keelvol is vir al die misdaad wat almal se lewens ontwrig.
Regina Power – “Mammie” – wil namens Douglas Buurtwag aan almal wat ‘n bydrae gelewer het vir die bakkie, baie baie dankie sê. Die 3 LED-ligte waarmee die bakkie toegerus is, maak sommer dag in die donker en hulle glo en vertrou dat dit hulle sal help om die verskil wat hul reeds maak, selfs nog beter te kan doen.
Stephen Power is ook baie dankbaar vir alle borge van hierdie anti-misdaadgefokusde gemeenskapsprojek, wat hulle in staat stel om voort te kan gaan om ‘n positiewe verskil te kan maak in Douglas en omgewing.
Julian du Plooy sê dat sy grootste wens is om die dorp ‘n dwelm- en misdaadvrye dorp te maak. Die buurtwag bestaan uit alle gemeenskappe in en rondom die dorp wat teen misdaad staan. Hy bedank almal wat hulle ondersteun en sê dit is vir hom ‘n riem onder die hart. Hy sien uit daarna om misdaad heeltemal te kan bekamp.
Hulle almal bedank, ook vir mnr. Van Rhyn, dat hy namens hulle fondse ingesamel het om die koop van die bakkie moontlik te maak.









