Guillain Barré is ‘n seldsame sindroom waarin jou liggaam se immuunstelsel jou senuwees aanval. FiND iT gesels met ‘n leser wat onlangs met die sindroom gediagnoseer is.
“Ek het Sondag deurgery Mthatha toe. Dinsdag 7 Mei het ek van Mthatha af Oos-Londen toe gery en die aand toe ek terugkom op Mthatha, het my bene van my knieë af erg lam gevoel. Ek het gedink dit is maar van die baie ry.”
Dit het erger geword
“Van Woensdag af het dit begin erger word, maar ek het eers Donderdag besef dat iets ernstig fout is. Tot en met Sondag het die simptome aggressief toegeneem. Ek het gesukkel om te loop, my voete en tone kon nie beweeg nie. Ek kon nie self opstaan nie en het vir enige rede sommer net omgeval. My hande het begin swak raak sodat ek nie my vingers kon beweeg nie. Ek kon niks optel nie en dit was ‘n gesukkel om op my voete te bly.”
“Ek is Gariep-hospitaal toe, maar moes R2 500 betaal om net ‘n dokter te sien. Hulle wou my opneem, maar het vereis dat ek eers R19 000 moet neersit voordat hulle my kon opneem. Omdat ek nie daardie tipe geld het nie, het hulle my na Kimberley-hospitaal toe verwys.”
Hulp gekry
“Dit is by Kimberley-hospitaal waar ek hulp gekry het. Bloedtoetse, spier- en senuweetoetse is gedoen en ek moes ook ‘n lumbale punksie (lumber punch) kry. Die uistslae het gewys dat ek Guillain Barré-sindroom het. Ek was vir drie weke in die hospitaal. Die susters en dokters was baie professioneel, ek het baie goeie diens ontvang.”
Die pad na herstel
“Dit kan my enigiets van twee weke tot twee maande neem om te herstel, dalk langer. Ek het klei gekry om my hande te oefen en versterkingsoefeninge vir my bene soos bv. hurke en ander spieroefeninge. In my tyd in die hospitaal het ek van ander mense gehoor wat dieselfde siekte het, maar net verder gevorderd as myne. Jy kan verlam word tot by jou nek. Jy kan nie praat nie, moet gevoer word en sommiges moes tot aan asemhalingstoestelle gekoppel word. Dit kan maande wees voordat hulle herstel.”
“Dit het my laat besef dat die dinge in die lewe wat mens dink belangrik is, is eintlik nie so belangrik nie. Ons is geseënd om gesond te wees terwyl daar duisende mense in hospitale is wat nie normale lewens kan lei nie. Ek het die nood in die hospitale gesien – mense wat uitroep na die Here vir gesondheid en liefde. Ons kan ‘n groot verskil maak. Dit was ‘n groot geloofstoets en dit het my baie nader aan die Here gebring.”
Guillain Barré-sindroom (GBS) is ‘n seldsame neurologiese sindroom waarin die liggaam se immuunstelsel verkeerdelik ‘n deel van sy periferale senuweestelsel aanval – die netwerk van senuwees buite die brein en rugmurg. GBS kan wissel van ‘n baie matige geval met ‘n kort periode van swakheid tot byna verwoestende verlamming, waar die persoon nie in staat is om onafhanklik asem te haal nie. Gelukkig herstel die meeste mense uiteindelik, selfs van die ernstigste gevalle van GBS. Na herstel sal sommige mense steeds ‘n mate van swakheid hê.
Guillain Barré-sindroom kan enigiemand tref. Dit kan op enige ouderdom toesak (alhoewel dit meer dikwels by volwassenes en ouer mense voorkom) en albei geslagte kan die siekte kry. Een persoon in 100,000 word per jaar geaffekteer.



