Sedert Juan van Rensburg (36) se sussie Ellouise van Rensburg (33) op 10 Februarie besluit het dinge kan nie verder so aangaan nie, is Juan al 15 weke in rehab op Noupoort.
Vir jare moes die sussie toekyk hoe haar broer stadig maar seker alles as gevolg van dwelms verloor.
Verskillende fases
Juan woon tans in ‘n plaashuis wat steeds deel vorm van Noupoort en is deel van hulle program.
Ongeveer drie tot vier weke na pasiënte in die sentrum ingeboek is, word hulle vanaf die sentrum na die plaashuis geskuif waar hulle ‘n geruime tyd bly. Daarna word hulle weer geskuif na Middleton. Dié sentrum is vir al die “nuwe” verslaafdes. Daar is dus verskillende fases op die herstelpad.
Ellouise vertel Juan gaan vir ongeveer nog vyf weke op die plaas woon en werk voor hulle hom oorplaas na fase twee in Middleton, waar hy vir 20 weke gaan bly.
Die vestiging se naam is CIARA wat staan vir Christians in action re-integration academy.
Vereistes om te kan “aanbeweeg”
Volgens Ellouise moet die verslaafdes drie nikotienvrye toetse slaag, voor hulle oorgeplaas mag word. “Indien hulle dit nie slaag nie, mag hulle nie oorgeplaas word nie.”
Die groot uitdaging
“Die groot toets vir die verslaafdes is in fase twee waar hulle terug in die samelewing geplaas word,” vertel sy verder. “Hulle gaan bv. in die kroeg werk waar hulle weer blootgestel gaan word aan drank en sigarette. Hulle sal egter gereeld moet gaan vir toetse om te verseker dat hulle nog skoon is.” CIARA (Christians in action reintegration) is die tweede fase van die hervestiging van die inwoners na rehabilitasie.
Indien enige van die verslaafdes positief toets, moet hulle dus van voor af met die hele program begin.
Sien uit na volgende fase
Volgens Juan gaan dit baie goed met hom en is hy steeds positief. “Ek is tans besig met opleiding vir ‘n projekbestuurder. Ek sien baie uit na die volgende fase. Dis bietjie ‘n change of scenery.”
Ellouise vertel opgewonde hulle is van plan om by Juan te gaan kuier, voor hy Middleton toe skuif.



