“Ek lewe nou vir jou Chara”

Corrie en Chara

Chara van Zyl (18) se hele lewe het nog voor haar gelê. Sy was ‘n matrikulant aan die Hoërskool Diamantveld wat op pad was om die grootmenswêreld te betree. Sy het soos enige ander meisie oor haar matriekafskeid gedroom. Maar, min wetend, is sy voor daai dag wreed uit die samelewing geruk. Haar matriekafskeidrok hang nog net so in die kas.

Chara en Hendre Gouws (19) is op 11 Junie 2014 in ‘n motorongeluk net buite Kimberley oorlede.

Beide van hulle was passasiers in ‘n voertuig toe ‘n trok en die Ford Focus, wat Henco Boshof (25) bestuur het, teen mekaar gebots het. Die noodspan wat haar probeer red het, het nou en dan ‘n hartklop gekry, maar sy is later in die hospitaal dood verklaar. Hendre is op slag dood.

Corrie Burger (50), Chara se ma, praat met FiND iT oor haar enigste dogter wat hierdie jaar al vyf jaar oorlede is. “Daar is nie tyd gekoppel aan die tipe rou nie.”

“Die dag toe Chara begrawe is, is ‘n deel van my saam met haar begrawe,” vertel Corrie.

Hoe het Chara se dood jou lewe affekteer?

“Ek gaan verlang en rou tot die dag wat ek my kind weer sien.”

Corrie vertel Chara se dood oorheers nie meer haar lewe soos voorheen nie. Alhoewel die pyn sagter is, is dit ‘n seer waarmee Corrie moes leer om mee saam te lewe. “Jy vind nooit berusting nie. En daar is niks wat ek omtrent die seer en situasie kan doen nie. My berusting lê daarin dat ek haar weer gaan sien. Ja, ek huil nog gereeld en ek het my af dae, maar dit raak met tyd beter en minder.

Alles het verander na Chara se dood. Ek het ‘n ander Corrie geword. Ek kyk anders na die lewe. Ek sien dinge raak wat ek nooit voorheen opgemerk het nie – wolkformasies, die natuur, die reuk van reën en varsgebakte brood. Ek dans en lag soveel as wat ek kan, want die lewe is kosbaar.”

Hoe moeilik dit ookal was, het Corrie ‘n keuse gemaak om op te staan. “Ek lewe nou vir Chara. I am her legacy, her voice. Chara lives on in me, so I’ve made the choice to honour her life by living again.  I love her and miss her, but I’ll see her again.”

Geloof hou my staande

Corrie was nog altyd ‘n kind van die Here, maar na Chara se dood het haar verhouding met God verdiep en dis juis as gevolg van haar geloof dat sy nog staande is.

Vir Corrie was dit ‘n vreeslike seer en eensame pad om te stap. “Ek het ‘n groot behoefte gehad om ander mense, wat dieselfde pad as ek gestap het, te help. Daarom tree ek soms as motiveringspreker op. Ek het ook besluit op my gevoelens en emosies op papier vas te lê en dus het ek ‘n boek geskryf: “As die son se strale weer vir jou deurbreek”.

Corrie vertel sy is tans besig om die boek, wat baie goeie terugvoer gekry het, in Engels te vertaal.

“Die boek help ook die samelewing om ons stukkende ouers te verstaan.  Mense dink ons moet ons regruk na ‘n paar maande, of hulle sê dinge wat seermaak, soos gelukkig het jy ander kinders, die mooiste blom is gepluk, sy in nou ‘n engeltjie.  Die boek gee ouers hoop in die storm, die versekering dat die son se strale weer vir jou sal deurbreek, dat daar vir jou ook ‘n reënboog sal wees.”

Corrie is tans besig met ‘n diploma in bereavement counselling en vertel sy sou nie al die dinge kon aanpak as Chara nog geleef het nie. “Dis te danke aan haar dat ek al die goed kan doen.”

Op watse maniere het jy die verlies verwerk net na Chara oorlede is?

Corrie vertel sy het vir Chara ‘n tuintjie gemaak, maar dat haar hele tuin eintlik onstaan het as gevolg van Chara. “Onthou, ek het ewe skielik meer tyd gehad. Ek het geskilder en ook vir haar briewe geskryf. Ek doen dit nog steeds.”

Corrie het ook baie oor haar dogter gepraat en vertel mense was baie geduldig met haar in die swaar tyd. “Ek het ‘n goeie ondersteuningsnetwerk gehad. My man Frans het my ruimte gegee om te rou. Sy liefde vir my was ‘n vertroosting. Hy het ook vir my ‘n kruis langs die pad opgesit waar Chara oorlede is.”

Worsteling

Corrie vertel sy baklei soms met Chara in die briewe wat sy vir haar skryf. “Hoekom het jy my nie gebel daardie aand nie? Hoekom het jy in daardie motor geklim?”

“Dit is maar deel van die gesond word. Jy kan nie die tipe verlies sonder jou Here aanpak nie.  Jy steek jou hand uit terwyl jy lê en vra dat die Here jou moet dra.”

Wat laat jou die meeste aan Chara dink?

Kinders in hulle Diamamtveld-skoolklere ruk Corrie terug na die harde realiteit. “Chara was nog op skool toe sy van my af weggeneem is.”

Chara het die mooiste lang hare en bene gehad en dus laat elke meisie met lang hare en bene Corrie nog bietjie meer na haar dogter verlang. “Vakansies en reëndae mis ek haar. Ag, sy is oral sonder dat ek haar soek.”

Corrie vertel daar is nie ‘n dag dat sy Chara nie mis nie. “Ek mis haar elke dag, maar dit is erger op verjaarsdae, haar sterfdag, Kersfees, enige groot familiegebeurtenisse.  As ek moet gaan klere koop of as ek mammas en dogters saam sien, dan krimp my hart ineen.”

Wat mis jy die meeste van haar?

“Haar droë sin vir humor, haar lekker lag.  Ons shopping saam. Ons road trips. Haar liefde vir my.  Haar eerlikheid. Hoe sy my altyd getroos het. Haar onvoorwaardelike liefde vir my en ander.  Sy het ‘n omgeehart gehad. Sy was my beste maatjie,” vertel Corrie hartseer.

Wanneer jy haar die meeste mis of verlang, wat doen jy wat jou bietjie help met die verlange?

“Ek skilder nou, my man het vir my ‘n ateljee gebou.  Daar sit ek my musiek aan en raak vir ‘n paar ure weg.  Ek geniet dit om te oefen. Dalk skuif ek net die seer, maar dit werk.”

Corrie vertel trane is ook deel van haar genesingsproses en dat ‘n goeie huilsessie haar ook deur die verlange help. “Soms loop ek verby haar foto’s sonder om te kyk, want dit is net te seer; sy is weg.  Maar ander dae dan kan ek dit weer face.”

Verwerk mens ooit regtig ‘n kind se dood?

“Nooit! Dit is soos om ‘n arm te verloor. Dit is eers pynlik en jy sukkel om aan te pas sonder die ledemaat. Soos dit gesond word, leer jy om aan te pas, maar jy kyk deur die verlange na ander wat al hulle ledemate het. Jy sal altyd onthou en verlang na die tyd toe jy ook jou arm gehad het.”

Een laaste dag saam met Chara

As Corrie een laaste dag saam met Chara kon hê, sou sy haar net eers ‘n bietjie langer wou vashou. “Ek sou weer ‘n road trip saam met haar wil doen. Waar ons net in ‘n kar kan klim, saam met die musiek sing en lag vir ons simpel grappies.

“Ek sou haar vertel hoe lief ek vir haar is en hoe vreeslik trots ek op haar is.  Ek wil hoor dat sy self vir my sê dat sy gelukkig is. (Ek weet sy is, sy is dan in die hemel; ek wil dit net self hoor).  Ek wil vir haar vertel hoe goed haar boetas doen en dat haar ouma nog net dieselfde goeie ouma is. En dat ek okei is sonder haar.”

Watse raad het jy vir ‘n ouer wat ook ‘n kind verloor het?

 “Moenie dat mense jou vertel hoe lank of hoe om te rou nie.  Dit was jou kind. Onthou, jy het nog ander kinders en familie. Hulle rou ook en het jou nog nodig. Bly vashou aan jou God. Dit is al konstante wat ons het. Hy sien jou trane en hoor jou gebede. Hy is ons vertrooster. Soos enige ander storm is dié tipe verlies ‘n proses.  Jy kan nie om dit gaan nie, jy moet deur dit gaan, maar jy is nie alleen nie, al voel dit so. Leef vir jou kind, want hulle kan nie meer nie.” 

Vergifnis vir die bestuurder

Vergifnis is ‘n wilsbesluit. As Christen is dit nie eers ‘n opsie nie, maar ‘n moet.  Ek dra so erg aan my verlies, ek sou nie nog met onvergewensgesindheid ook kon loop nie.  Ek moes my losmaak van die mense en die gebeurtenis. Is dit maklik? Nee, maar moontlik. Baiekeer word ek nog kwaad en dan moet ek maar weer vergewe.”    

Buiten die bestuurder, vertel Corrie, moes sy haarself ook vergewe het en dat dit die moeilikste van alles was. “Ek is dan haar ma. Ek moes haar beskerm het. Ek moes haar gestop het daardie aand.”

Chara se vierde verjaarsdag in die hemel

Chara sou op 27 Mei 23 jaar oud geword het. Corrie vertel hulle het ter nagedagtenis van Chara ‘n nie-regeringorganisasie, Chara’s Care, gestig.

“Dis nog nuut, maar ons wil dit graag gebruik om die nood in die samelewing aan te spreek waar ons kan. Ons hou altyd op haar verjaarsdag ‘n partytjie vir ‘n instansie of groep mense wat dit nodig het of sal waardeer. Dié jaar hou ons ‘n partytjie vir ‘n ouetehuis.”  

FiND iT gaan op Chara se verjaarsdag ‘n spesiale boodskap van haar ma plaas.

Corrie se lewensraad

“Wees lief vir jou mense, wys dit, sê dit. Liefde is nie net woorde nie, dit is die tyd wat jy bereid is om saam hulle te spandeer. Leef voluit, die lewe is kosbaar. Maak ‘n verskil waar jy kan. Wees seker as jy vandag doodgaan dat jou lewe reg is sodat jy by jou geliefdes kan aansluit. Chara se wedloop van die lewe was ‘n 100 meter, sy het voluit gehardloop. Party van ons is met marathons besig – jy gaan ook by die einde aankom, maar hoe was jou pad tot daar? Bestaan jy net of lewe jy? As jy nog hier op aarde is, het jy ‘n doel. Vind dit en leef dit.”


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: