’n Leser het laasweek emosioneel aan FiND iT vertel hoe haar kat, wat spesiale behoeftes het, vermis is – dit nadat hy vroeër die oggend ’n aanval gekry het, wat hulle dink ’n epileptiese aanval was.
Vermoedelik raakgery
’n Anonieme leser het later daardie dag verby ’n katjie in Reservoirweg, wat baie soos Hakuna lyk, gery en die eienaar in kennis gestel. La Rochelle du Preez het emosioneel aan FiND iT bevestig dat dit haar Hakuna is, wat toe reeds dood was. “Ek vermoed hy is raakgery,” het sy gesê.
Oor die naweek het La Rochelle weer om hulp gevra op sosiale media, op soek na haar geliefde kat, Hakuna. Sy vertel hoe die kat wat sy laasweek gaan haal het in Reservoirweg en begrawe het, toe nie haar kat was nie, maar Afri.
Afri, nie Hakuna nie
“Albei ons katte lyk baie dieselfde. Hakuna het ’n wit neusie en Afri ’n swarte. Ek het nie soveel aandag aan die detail gegee toe ek hom gaan optel het nie en het hom dadelik in ’n boksie gesit sodat ons hom kon begrawe. Oor die naweek het my ma ’n foto op Facebook gesien waar ’n ander vrou ook vra vir hulp om haar kat, Afri, op te spoor. Dit het my ma baie gepla en ons het die eienaar gekontak. Dit was sowaar haar kat wat ons reeds begrawe het.”
Steeds op soek
“Ons is tans nog op soek na Hakuna en vra almal om asseblief op die uitkyk te wees,” vra La Rochelle.





