Griekwas doen dit weer!

Vir nog ‘n week is die Tafel Lager Griekwas onoorwonne! Met 38 teenoor 17 punte het die Poubloues die Vodacom Blue Bulls laat les opsê toe die eindfluitjie na 80 minute blaas.

Die eerste punte van die wedstryd is deur die Griekwas met ‘n drie deur Ederies Arendse aangeteken waarna dit verdoel is deur George Whitehead, losskakel van die Griekwas.

Net voor die fluitjie vir halftyd geblaas is, het AJ le Roux en Blackie Swart, wat ook aangewys is as man van die wedstryd, elkeen ‘n drie gedruk. Die halftydtelling was dus 21-7 vir die Griekwas.

Nadat daar ‘n strafskop teen die Griekwas aangeteken is, het Sias Koen, een van die Griekwas se flanke, die eerste punte na halftyd op die telbord vir die Griekwas gesit.

Die Bulls, wat in dié stadium 28-17 agter was, kon vir die res van die wedstryd nie weer punte aanteken nie. Hulle het ‘n strafskop aan die Griekwas afgestaan waarna Arendse sy tweede drie vir die wedstryd gedruk het.

Die Griekwas, wat vyf drieë in die wedstryd gedruk het, was vir die hele 80 minute die voorlopers op die telbord. Whitehead het hom goed van sy taak gekwyt en 13 punte vir die Kwaste aangeteken in die wedstryd met vyf verdoelskoppe en een strafskop deur die pale.

Kimberliete was verheug toe die eindfluitjie blaas en die Griekwas weer onoorwonne van die veld afloop.

Brent Jansen van Rensburg, hoofafrigter van die Tafel Lager Griekwas, het in ‘n onderhoud net na die wedstryd gesê alhoewel hulle bevoorreg is om te kon wen, is daar onnodige foute deur die Griekwas gemaak, maar dat die skrums beslis een van die goed was wat beter gewerk het tydens die wedstyd.

Kyk hier na die onderhoud:

Brent Jansen van Rensburg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: