Kleuter gegroet

Die vierjarige Lia-Mari Jansen van Vuuren is Vrydagoggend uit die NG kerk Boshof begrawe.

“Nou dra jy ‘n kroon soos jy altyd wou,” skryf haar pappa, Willem Jansen van Vuuren, op sy Facebook-blad.

Lia-Mari is Saterdag, ‘n dag voor Moedersdag, in die Mediclinic Bloemfontein se hoësorgeenheid dood weens ‘n virus.

Luidens Netwerk24 is Willem (31) en Mari Jansen van Vuuren (31), Lia-Mari se ma, erg geskok oor die dood van hulle enigste kind.

Alhoewel Lia-Mari sedert haar geboorte met haar gesondheid gesukkel het, was haar ouers positief  dat sy ‘n hoë ouderdom sou bereik, aangesien sy die afgelope jaar baie gesond was.

Lia-Mari is Woensdag in die hospitaal opgeneem, maar die soort virus kon nie betyds geëien word nie, omdat dit sowat drie dae neem.

Volgens Mari was die virus te sterk vir die behandeling wat sy ontvang het.

Mari se swangerskap was stresvol nadat hulle op 33 weke uitgevind het Lia-mari het ‘n vernouing in haar dunderm. Sy is op 7 Februarie 2015 gebore en die defek in haar dunderm is slegs ‘n dag na haar geboorte herstel .

Maar maande later het  dokters besef haar lewer funksioneer nie reg nie en sy het op 24 November 2015 ‘n leweroorplanting gekry. Mari het ‘n deel van haar lewer geskenk.

As gevolg hiervan moes Lia-Mari lewenslank immuun-onderdrukkers gebruik. Dit het haar dus meer vatbaar gemaak vir siektes.

Willem Janse van Vuuren (31), Lia-Mari se pa, het ‘n hartroerende boodskap ‘n dag na haar dood aan sy dogtertjie op sy Facebook-blad geskryf.

Hoe praat ‘n Pa oor sy hele lewe se bestaan in ‘n post. Jy is my hele bestaan my engelkind Lia.

Lia-Marí Janse van Vuuren jy is ons grootste geskenk van God gewees. Ons kon jou nie langer hier hou en en al wens Pappa en Mamma so hard daarvoor is jy nou eers klaar hier by ons. My hart skeur stukkend my sterk slim snaakse vriendelike STERK STERK STERK meisiekind! Ek wil nie hierdie woorde tik nie!!! Ek stry steeds sekonde vir sekonde met myself.

En dan as die asem weer in my longe invloei dan weet ek met hart ek siel dat die seer weg is en nooit weer oor jou sal hang nie en soek my hart vrede in daai gedagte. Een skryfstukkie van baie… My gedagtes hart siel en wese is vol van jou en sal ook altyd wees!!!

For ever and always my angel!!!!,” skryf Mari op haar Facebook-blad met ‘n foto wat sy deel oor Lia-Mari se begrafnis.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *