Delwer 3 keer lewenslank vir 3 moorde opgelê

Johan Pieter Sonnenberg (62) is in die hooggeregshof van Virginia Vrystaat vir die moord van drie mans, Michael Grant (20), Jerome Desmond Grant (25) en Riaan Ruiters (23) gevonnis.

Konst. Mahlomola Peter Kareli, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê: “Die oorledenes is in Februarie van 2014 as vermis by die polisiekantoor op Christiana aangemeld. Die polisie het inligting ontvang dat die drie mans die laaste saam met Sonnenberg gesien is. Sonnenberg en die oorledenes het oor die brug na sy wildsplaas Diamant op die grens tussen Christiana in die Noord-Wes en Hertzogville in die Vrystaat geloop. ’n Lasbrief is deur speurders op Christiana uitgereik om die plaas te deursoek.”

“Die honde-eenheid van Strikfontein, die duikeenheid en sigbare polisie-eenheid op Christiana sowel as speurders van Hertzogville het die plaas gefynkam. Gedurende die soektog is ‘n stink reuk opgemerk en die nasionale forensiese-taakspan van Pretoria is ingeroep om die drie liggame wat in ’n vlak graf begrawe is op te grawe,” verduidelik Kareli.

Voorts sê hy: “Sonnenberg wat in daardie stadium 58 jaar oud was, is op sy plaas in hegtenis geneem vir die moord op die drie seuns. Gedurende die ondersoek het die polisie ook beslag gelê op verskeie ammunisie. Die saak is suksesvol deur lt.-kol. Tankiso Sefuthu ondersoek.”

Die provinsiale kommissaris vir die polisie in die Vrystaat, lt.-genl. Moeketsi Sempe, het die taakmag wat verantwoordelik was vir die ondersoek bedank. “Ek het hoop dat die familie van die drie seuns van Christiana vrede sal vind met die beslissing,” sluit Sempe af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *