Liefde leef voort in ouetehuis

Sarel (83) en Leentjie (81) van der Merwe wat vir die afgelope twee maande in Acasia-ouetehuis bly, vertel hulle sou saam met niemand anders op die ouetehuis se stoep wou sit nie.

Die egpaar het mekaar in die Minerva-hotel op Sishen ontmoet waar Sarel as bestuurder en Leentjie as sekretaresse gewerk het. Sishen is vandag ‘n spookdorpie naby Kathu waar gemyn word.

Hulle is al vir 42 jaar getroud en het saam by ‘n depot wat pamflette vir koerante versprei op Tzaneen gewerk. “Die bestuurder van die depot het vir my en Sarel gesê hy wil ‘n geskenk vir ons gee. Toe gee hy vir ons die depot in Kimberley,” vertel Leentjie.

Van der Merwe-verspreiders bestaan al vir die afgelope 22 jaar waarvan Sarel en Leentjie dit vir 18 jaar bestuur. “Ek het my seun vier jaar gelede gebel en gesê hy moet kom oorvat. Ek het besef ons raak nou te oud om die plek te bestuur.”

Leentjie se seun, Johan, het al die pad van Kathu gekom en die besigheid kom bestuur. Die egpaar het elk drie kinders uit vorige huwelike waarvan een van Sarel se kinders reeds oorlede is.

Die egpaar praat met groot lof van hulle kinders. “Ons kan net dankbaar wees vir ons kinders wat so mooi na ons  kyk en amper elke dag by ons kom kuier. Sonder hulle is ons niks.”

Leentjie vertel sy en Sarel was gedurende November 2018 in en uit die hospitaal, sy in Bloemfontein en hy in Kimberley.  “Ek het my rug seergemaak toe ek Sarel wou help toe hy in die stort geval het.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: