Seun met broek af by dogtertjie gekry

Deel hierdie storie / Share this story

‘n 13-jarige seun is na bewering agter ‘n geslote deur met ‘n sesjarige meisie, met sy broek af, betrap. Die insident het in Mooinooi in ‘n Wimpy-restaurant plaasgevind.

In ‘n video, wat soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei het, konfronteer die ma van die meisie die seun.  Op die video, wat in FiND iT se besit is, sê die seun die meisie het hom gevra om haar glo te soen.

Wat sê die polisie?

Brig. Sabata Mokgwabone, ‘n polisiewoordvoerder, het aan FiND iT bevestig hulle het ‘n oproep op verkiesingsdag van die Wimpy ontvang.

Volgens Mokgwabone het die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings ‘n ondersoek begin en sal beide die seun en meisie Maandag ondervra word.

Hy sê verder ‘n saak van moontlike oortreding van ‘n seksuele aard word ondersoek.

Niemand is in hegtenis geneem nie, omdat die oortreder ook minderjarig is.

Wat gebeur in die video?

Die huilende seun ontken in die video hy het iets verkeerd gedoen.

Volgens hom sê hy die meisie het hom gevra om dit te doen.

“Wat te doen?” vra die vrou op die video. “Om haar te soen,” sê hy. Nog ‘n vrou sê dan in die video dat die polisie eerder gebel moet word.

“Jy beter vir ons die waarheid vertel,” sê ‘n Wimpy-werknemer aan die seun.

Die meisie is ook sigbaar in die video waar sy in ‘n pienk Barbie-sweetpak staan.

Twee onbekende vroue vra vir die dogtertjie wat het gebeur. Die dogtertjie fluister in die een vrou se oor waarna sy hardop vra. “Hy op jou geslaap?”

“O my God!” skree die ma ontsteld. Die seun skree dan weer huilend hy het niks gedoen nie en die meisie het hom gevra om haar te soen.

“Ek kan nie my kind ontklee in die toilet saam met jou kry nie en nogal in die manstoilet. Toe ek aan die deur klop, het my dogter hallo gesê. Die een (wys na die seun) sê hy is besig in die badkamer. Hy wil nie die deur oopmaak nie. Wat was jy besig om te doen?” vra die ma aan hom.

Hy verduidelik weer hy was op pad toilet toe, toe die meisie hom genader het en hom gevra het om hom te soen. “So jy het haar binne-in die toilet getrek?” sê-vra die ma.

Die identiteit van die seun en die dogtertjie word beskerm omdat albei minderjarig is.

‘n Skermgreep uit die video.