Slaan jou DSTV stukkend en Steve gee jou dalk R10 000

Foto: sabreakingnews.co.za

Die uitgesproke sanger, Steve Hofmeyr, het ‘n video op sy Facebook-blad geplaas waar hy  ‘n R10 000-kontantbeloning beloof aan een “gelukkige wenner” wat wys hoe hy sy skottel of dekodeerder stukkend slaan, oor hom ry en in die proses vernietig.

Op die video wat Hofmeyr op Facebook gelaai het, ry hy met sy bakkie oor sy dekodeerder, ruk sy skottel van sy dak af en gooi dit op die grond neer.

“Ja, ek en jy kan nie alles en almal terugboikot nie, maar ek gaan probeer. Ek is dan oënskynlik klaar met Multichoice, al hul kanale, soos Kyknet en Showmax, asook Media24 (hou asb. op om my te bel), en ‘n paar ander wat ek mettertyd op die naam sal noem,” skryf Hofmeyr op sy Facebook-blad.

Die video is al meer as 15 000 gekyk, 12 000 gedeel en 6000 mense het al kommentaar op die video gelewer.

Die video het hewige reaksie uitgelok en baie mense het video’s gedeel waar hulle hulle skottel of dekodeerder vernietig.  Mense het ook video’s gelaai waar hulle wys hoe hulle MultiChoice bel en hulle kontrakte kanselleer.

“Ek bied steeds ‘n R10 000 kontantprys vir jou video waar jy dieselfde doen. Ons trek een gelukkige wenner teen 15 Junie 2019. Dit gee almal ‘n maand se laaste DSTV (AS JY JOU KONTRAK GEKANSELLEER HET) en genoeg tyd om ‘n video te maak. Ons sal die wenner inboks, verwittig en hom of sy besigheid die aandag gee wat hy wil hê. Omdat daar soveel goeie video’s hier gepos word, sal ons een wenner maar vele troospryse hê,” het Hofmeyr Sondag op sy Facebook-blad geskryf.

Kyk die video hier:

https://www.facebook.com/Steve.Hofmeyr/videos/401455560698815/


Steve Hofmeyr het die foto met die opskrif : “Môreoggend 08h00 wys ek wat met my MultiChoice dekodeerder en skottel gebeur het. Per ongeluk,” op sy Facebook-blad gedeel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *