Verkiesing open vir spesiale stemme sonder probleme, sê Maimane

Hierdie verkiesing gaan die mees bestrede verkiesing in die onlangse geskiedenis wees. So sê DA-leier, Mmusi Maimane, vanoggend op 6 Mei tydens sy besoek aan die stemlokaal vir spesiale stemme by Letshego gekombineerde skool in Redirile in Galeshewe.

Maimane het almal op sy pad tot by die stemlokaal vriendelik gegroet en gevra of hulle gereed is om te stem. Maimane sê: “Die IEC het daarin geslaag om die stemlokale betyds oop te maak. Die spesiale stemme oor die volgende twee dae sal die sisteem vir stemdag toets. Ek is bekommerd oor die volgorde van die spesiale stemme en of dit volgens alfabetiese volgorde gerangskik word of nie. Dit is belangrik om die proses vinnig en effektief af te handel.  Woensdag is die groot dag wanneer elke burger sy stem vir sy party sal trek.”

Verandering is nodig en verandering is op pad

“Ek is lief vir die Noord-Kaap, maar elke keer wat ek die ANC-beheerde provinsie besoek, sien ek werklose mense. Ek sien ook hoe ’n kriminele sindikaat wat hulself die ANC noem die provinsie en hulpbronne bankrot steel. Die LUR vir die Noord-Kaap provinsie, Sylvia Lucas, lewe op KFC wat met die belastingbetalers se geld gekoop is. Dit is belaglik. Enige persoon wat vir die ANC stem, kies om agteruit te gaan. Die DA is die party vir die toekoms. Dit is die enigste party wat ’n verenigde nasie bou. Die DA is die enigste party wat se ledetal drasties gegroei het in die hele Noord-Kaap provinsie. Ons fokus nou op die verkiesing. Dit is ‘n unieke tydperk in die geskiedenis van ons land en burgers is gereed vir verandering,” verduidelik Maimane.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: