Verdagtes in Piet Els-saak doen aansoek om borg

Karabo Rankali (32) en Lebobang Elias Melesi (27), twee van die vyf verdagtes in verband met die aanval op wyle Piet Els (87), het Maandagoggend in die landdroshof in Kimberley verskyn.

Hulle het op aanklag van moord, roof en verswarende omstandighede verskyn.

Landdros Makoto het die saak uitgestel vir verdere betoë.

Els en sy vriendin, Rikkie Alsemgeest (68), is op 23 Januarie 2018 op Els se plaas net buite Kimberley op die Griekwastad-pad aangeval.

Els, wat tydens die aanval ernstig beseer is, het na 111 dae in die intensiewesorgeenheid in die MediClinic Gariep-hospitaal in Kimberley aan sy beserings beswyk. Els was vanaf 24 Januarie, toe hy opgeneem is, tot die dag van sy dood in ICU.

Nadat die beskuldigdes Els en Alsemgeet vasgebind het, is hulle met ‘n strykyster gebrand voordat die beskuldigdes met ‘n wit Mercedez Benz-motor, 33-30  jaggeweer, ‘n pistool, drie armhorlosies ter waarde van R45 000.00, Kruger-rande en ‘n ring ter waarde van R1.5 miljoen, gevlug het.

Die ander drie beskuldigdes, Morapedi Rankali, Motlalentwe Qhautse en Thuso Ramolo het reeds op 16 Mei 2018 in die Kimberley-landdroshof op aanklag van huisbraak, moord en verkragting verskyn. Hulle is borgtog geweier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: