FiND iT het gesels met twee lesers, wat anoniem wil bly, oor hoe dit voel om ’n pa te wees van kinders wat nie van sy bloed is nie.
Hoekom het jy ’n vrou gekies wat reeds kinders het?
Anoniem 1 (A1): “Ek het baie lief geraak vir my vrou en omdat dit haar kinders is, het ek hulle aanvaar soos my eie en net so lief geraak vir hulle.”
Anoniem 2 (A2): “Ek het my vrou ontmoet en ons het goed oor die weg gekom. Ek het toe uitgevind sy het kinders en het onmiddellik verlief geraak op hulle toe ek hulle ontmoet het. Ek het toe die besluit geneem om in hulle lewe te wees en te help om hulle te ondersteun en te versorg, aangesien hulle pa oorlede is.”
Hoe voel dit om iemand anders se kinders te help groot maak?
A1: “Dit voel glad nie vir my anders nie. Ek en my vrou het ’n baba saam en ek behandel almal dieselfde. Hulle is steeds my kinders, al het hulle ’n ander pa.”
A2: “Dit is glad nie vir my moeilik nie. Kinders het jou hulp en leiding nodig. Jy moet hulle ondersteun en opvoed. Dit is ’n goeie gevoel om te weet dat die kinders wat jy opgevoed het in goeie mense verander en goed doen in die lewe.”
Wat sal jy sê help dat ‘n saamgestelde familie werk?
A1: “Wat vir ons werk, is baie aandag en liefde.”
A2: “Elke familie is anders, maar ek sal sê om saam te werk en almal gemaklik te laat voel. Om oop en eerlik met mekaar te wees as iets pla.”
Wat beteken familie vir jou?
A1: “Familie is vir my die belangrikste ding op aarde. Dit is die sterkste band wat ‘n mens kan hê.”
A2: “Familie is vir my baie belangrik. Dit is goed om struktuur in jou lewe te hê. Dit is die basis hoekom jy iemand liefhet.”



