Polisielede ook op Whatsapp-groep

KIMBERLEY. – Ongeveer 20 mense, insluitend polisielede, kan nou by die aansoek van ‘n tydelike interdik teen ‘n plaaslike sakeman hier betrek word.

Rudi Ferreira, ’n bekende sakeman van die stad, opponeer ’n tydelike interdik wat Linja Allen, werknemer van Northern Cape Security Solutions, teen hom ingebring het. Hy doen aansoek vir die blootlegging van dokumente – wat insluit Whatsapps van ‘n groep met die naam “No Filter Admin” vanaf Allen. Allen het dié aansoek teengestaan.


Dokumente privaat

Mnr. Mark Fletcher, Allen se regsverteenwoordiger, voer aan die dokumente is privaat. Fletcher tree ook op vir Craig van Rensburg, ‘n ambulanspersoneellid van Emer-G-Med, wat ook intussen ‘n aansoek vir ‘n interdik teen Ferreira ingebring het. Ferreira doen aansoek vir die blootlegging van dieselfde dokumente in die teenstaan van dié aansoek. Fletcher het gesê hy sal die blootlegging van die dokumente in Van Rensburg se saak, ook teenstaan.


Whatsapps in belang van saak

Mnr. Riaan Bode, Ferreira se regsverteenwoordiger, sê dié Whatsapps is van belang in die aansoek teen Ferreira, aangesien Ferreira se naam gereeld in dié Whatsapp-gesprekke voorkom. Hy sal Ferreira se aansoek wysig om die ander lede van die Whatsapp-groep in te sluit. Dié persone, waaronder polisielede, kan ook geroep word om te getuig. Diensverskaffers, insluitend Cell C, Vodacom en MTN, sal ook as nodig gevra word om dokumentasie te verskaf.

Bode sê Allen het in haar opponering die minister van polisie genoem en sou die polisielede geroep word om te getuig oor die boodskappe in die Whatsapps, kan die minister betrokke raak.

Allen het op 1 Maart ’n dringende interdik teen Ferreira, gebring.


Muishond Malan

Allen voer in haar verklaring aan Ferreira is die skrywer van ’n voormalige satiriese rubriek in Glitter-tydskrif. Dié rubriek was tot en met einde Maart onder die satiriese naam, Muishond Malan, geskryf.

Allen voer aan Ferreira het onder dié skuilnaam valse aantygings gemaak. Sy het met Ferreira probeer kommunikeer en hom gevra om te stop.

Allen voer in haar hofstukke aan Ferreira mag nie kontak hê met haar, mag nie haarself of persone naby aan haar intimideer of teister óf teistering deur iemand anders aanhits nie en mag nie valse inskrywings op sosiale media maak nie.

Die saak is tot 20 Mei vir argumentering uitgestel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *