Passievolle skeidsregter

Kat Swanepoel (60) is ’n bekende gesig in Kimberley en ’n passievolle rugby-skeidsregter.

Kat is al 38 jaar met sy hoërskoolliefde getroud. Hulle het mekaar ontmoet toe sy in Hoërskool Noord-Kaap en hy in die Hoër Tegniese Skool was. Saam het hulle twee kinders – ’n seun en dogter – asook ’n kleinkind met wie Kat trots spog. Almal woon hier in Kimberley. Kat het ook hier grootgeword en in 1977 by HTS gematrikuleer.

Rugby sy eerste passie

Kat se stokperdjies sluit gholf, hengel en jag in. Rugby bly sy eerste passie. “Ek sal myself nie as ’n avontuurlustige mens beskryf nie; ek maak nie besluite wat nie deeglik deurdink is nie. Ek is maar baie versigtig.”

Al jare by Wildeklawer betrokke

Op die ouderdom van 28 het Kat ‘n ernstige kopbesering opgedoen wat die einde van sy rugbydae beteken het, maar niks kon in sy pad staan nie. Hy sê hy het aan die begin van hierdie nuwe uitdaging nie geweet waaroor dit gaan nie. “Ek was nog altyd betrokke by Wildeklawer, van die begin af, asook by Boksmart. Die Griekwas het my genomineer vir Boksmart-verteenwoordiger en dit was al in 2009.”

Beserings kan verminder word

Kat meen beserings kan verminder word as die regte reëls en beleid van Boksmart gevolg word. Dit is ook vir hom die lekkerste deel van sy werk, om aan die einde van die jaar die beseringstatistiek te bekyk. “As ek kan sien ek het ’n rol gespeel in die veiligheid van spelers en dit voorkom dat een of meer spelers in ‘n rolstoel beland, is ek gelukkig.” Hy meen daar is te veel ouens wat met jong spelers op die veld werk en nie die nodige agtergrond en kennis het nie. Hulle besef nie noodwendig hulle sit met al daardie manne se lewens in hulle hande nie.

Wees eerlik en reguit

Kat se lewensmotto is: “Jy mag met my verskil.” Een van die grootste uitdagings in die rugbywêreld is om skeidsregters te behou en altyd eerlik en reguit met ouens te wees wat sy pad kruis. Volgens Kat verkies hy om eerder tromp-op reguit te wees as om ’n ompad te loop. Vir hom is reg reg, daar is geen grys area nie.

Doen dit vir regte redes

Hierdie inspirerende man se raad aan jong opkomende skeidsregters is: “Doen dit vir die regte redes.” Hy meen daar is te veel mense wat ongeveer in hulle middel 30’s  belangstelling verloor omdat hulle as skeidsregters begin het met die hoop dat hulle wêreldtoetse gaan blaas en dan opgee as hulle sien dit word nie bereik nie. “Hulle gaan moeilik teleurstelling oorkom.” Om ’n suksesvolle skeidsregter te word, moet jy aansluit vir die lekker daarvan – dit moet iets wees waarin jy jouself kan uitleef, verduidelik Kat.

Joane Groenewald

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: