Verdagtes in plafon gekry, nog een word gesoek

Die polisie is op soek na ‘n verdagte nadat vier verdagtes na bewering ‘n man op Postmasburg beroof het.

Brig. Mohale Ramatseba sê die polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem vir gewapende roof nadat ‘n 40-jarige sakeman na bewering beroof is.

Die man is beroof nadat hy geld by die bank op die hoek van Main- en Kudustraat getrek het.

“Die verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem. Die inligting aan die polisie gegee het hulle na ‘n huis in Boitshoko-lokasie geneem waar die verdagtes in die plafon van die huis weggekruip het.”

Ramatseba sê daar is op ‘n voertuig beslag gelê. Twee van die verdagtes het ernstige skietwonde opgedoen, terwyl die derde verdagte ligte beserings opgedoen het. “Die verdagtes met die skietwonde ontvang mediese hulp onder polisiebewaking. Die derde verdagte is in aanhouding.”

Die vierde verdagte word nog gesoek. Die geld wat gesteel is, is nog nie teruggekry nie.

Enigiemand met inligting, kan lt.-kol. Doggy Magugu by 082 469 0578 bel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *