“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab”- Juan Deel 2

Deel hierdie storie / Share this story

Juan van Rensburg (36) se sussie Ellouise van Rensburg (33) het haar “storie van hoop” met die lesers gedeel oor hoe sy as ’n sussie moes toekyk hoe haar broer alles as gevolg van dwelms verloor het.

Na jare se verslawing het Ellouise en Juan saam op breekpunt op 10 Februarie besluit dat dinge nie verder so kan aangaan nie.

Sonder enige baklei of smeek het Juan ingestem om na Noupoort-rehabilitasiesentrum te gaan.

Juan is reeds vir die afgelope 10 weke by die sentrum. Hy deel sy pad na herstel elke tweede week met die lesers uit die rehabilitasiesentrum.

Sy sussie Ellouise vertel namens hom omdat ons nog nie in dié stadium self met hom mag kontak hê nie.

Verskillende fases

Juan woon tans in ‘n plaashuis wat steeds deel vorm van Noupoort en is deel van hulle program.

Ongeveer drie tot vier weke na pasiënte in die sentrum ingeboek is, word hulle vanaf die sentrum na die plaashuis geskuif waar hulle ‘n geruime tyd bly. Daarna word hulle weer geskuif na Midelton geskuif. Dié sentrum is vir al die “nuwe” verslaafdes. Daar is dus verskillende fases op die herstelpad.

Week 9

Juan werk steeds op die plaas waar hy nou in beheer van die besproeiingstelsel is.

Op 20 April het Noupoort ‘n sportdag gehad en alhoewel hy ‘n maagvirus onder lede gehad het, het hy steeds sy pligte nagekom en die veld vir die sportdag geskraap.

Juan is nou weer perdfris, maar spyt hy kon nie deel wees van die sportdag nie. “Hy wou graag aan die touchies deelneem, omdat hy dit nog altyd geniet het om rugby te speel,” vertel Ellouise.

As gevolg van die inwoners se verslawing is Noupoort baie streng as dit by medikasie kom. “Indien nodig, sien inwoners teen 17:00 ‘n suster in die sentrum wat hulle ondersoek en dan besluit of die persoon medikasie mag ontvang,” verduidelik Ellouise. “Die medikasie word dan aan hulle voorsien.”

Die inwoners kry ook elk ‘n beurt om mieliepap in die plaashuis te maak en daar word ook gereeld Bybelstudie gehou. Elke persoon daar is verantwoordelik om die huis ten alle tye skoon en netjies te hou.

“Indien al hulle pligte nagekom is, mag hulle televisie kyk. Daar is nie ‘n spesifieke tyd waarop hulle moet gaan slaap nie,” vertel sy verder.

Week 10

Juan delegeer nou aan die verslaafdes (nuwelinge) wat nog in die sentrum bly, maar  het steeds sy daagliks verpligtinge op die plaas.

Ellouise vertel Juan begin oor ‘n week met opleiding as ‘n projekleier. Die opleiding duur ongeveer twee weke lank.

“Dit is iets om na uit te sien en iets om voor te werk,” vertel Juan. Indien hy aangestel word, sal dit sy plig wees om dissipline en orde te handhaaf en seker te maak als verloop vlot op die plaas.

“Hy mag dan ook elke dag ‘n oproep ontvang en nie net meer net vier elke week nie,” vertel Ellouise opgewonde.

“As projekbestuurder mag hy egter glad nie rook nie. Hy word elke keer voor die tyd getoets om te kyk of hy nikotienvry is,” vertel sy verder.

Volgens die reels is dit ook verpligtend dat Juan na 17 weke heeltemal nikotienvry is. Na 17 weke is rook heeltemal verbode en dit geld ook vir die res van die tyd wat hy daar is. Indien nie, beweeg hy nie na die volgende fase van die program nie.

Juan spandeer sy dae op die trekker waar hy die koollanderye ploeg sodat daar nuwe kool geplant kan word.

“Hy geniet die plaaswerk, maar soos enige ander mens, kry hy sy af dae. Dit maak hom egter nie minder positief nie,” vertel die trotse sussie.